Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Nou vir laaste hekkie

“In die week wat kom gaan ons niks anders doen as dit wat ons tot hier gebring het nie.”

Dit was die mening van Hawies Fourie, afrigter van die Maties se Varsitybeker-rugbyspan, wat Maandagaand met sy oorwinning van 47-5 oor Shimlas tot die eindronde van die kompetisie deurgedring het.

“Ons het goed gevaar tot nou en daar is min wat ons hoef te verander. Die Tukkies speel wel ’n ander spelpatroon as Shimlas en daar is sekere aspekte waarop ons sal moet fokus.

“Die Tukkies se vaste fasette is baie goed en ons het in ons eerste wedstryd teen hulle effens in die tweede helfte in die skrums gesukkel. Ons sal dus aandag aan ons skrumwerk gee om die druk op hulle te plaas eerder as om net die druk te hanteer nie.

“As ons hul skakelpaar onder druk wil sit, moet ons dit doen deur die voorspelers onder druk te sit,” het Fourie gesê.

Hy meen Tukkies se skakelpaar is tans goed op dreef en hulle is gevaarlike en slim spelers.

“Ook hul binnesenter, Erich Cronje, beleef ’n goeie seisoen en is van die eerste wedstryd af al in die Tukkies se beginspan. Ons sal hom ook moet dophou.

Gelukkig is die Matie-spelers ook op hul beste. Jordan Chait, Maties se losskakel, het Maandagaand drie skoppe na die pale gemis, maar Fourie sê hulle weet wat die fout is en het dit reggestel.

“Vir die res van die week volg ons ons normale oefenprogram en sal weer al die oefeninge en video-ontledings doen sodat ons reg is vir Maandagaand.

“Die tuisskare, wat waarskynlik meer as 15 000 gaan wees, is ’n groot voordeel en help baie om die spelers te motiveer,” het Fourie gesê.

Die Maties se opmars na die titel sluit ’n onoorwonne rekord in en hulle het die uitkloprondes afgesluit met 38 punte – agt punte meer as Tukkies, wat tweede geëindig het. NWU en Shimlas is onderskeidelik derde en vierde. Die Maties het ’n punteverskil van 256 teenoor die 169 van Tukkies.

Die Maties het Maandagaand hul rekening met ’n drie deur die heelagter Anton du Toit geopen en hoewel die doelskop onsuksesvol was, het dit die weg gebaan vir die meedoënlose wyse waarop die studente hul teenstanders uiteindelik oorrompel het.

Daar is min opposisie vir die Maties se skrumkrag en die volgehoue druk wat hulle op sowel die verdediging as die aanval op teenstanders plaas, het gelei tot die sukses wat hy tot dusver in die kompetisie gesmaak het.

Die driedrukkers vir Maties was Anton du Toit (2), Daniel Jooste, Ben-Jason Dixon, Chris Massyn, Edwill van der Merwe en HJ Luus. Die doelskoppe is deur Jordan Chait (4) en Reinhardt Fortuin (2) oorgeklits.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.