Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Sonkrag-rygoed is ‘laboratoriums’

’n Eeu gelede, toe die Universiteit Stellenbosch tot stand gekom het, was motors nog maar ’n vreemde gesig in wat later as die Eikestad bekend geword het. Saterdag (29 September) was dit weer die geval toe ’n vloot sonkragmotors by Die Braak aangekom het.

En net soos destyds het mense vasgesteek en twee keer na dié koddige gedoentes gekyk – 100 jaar gelede omdat dié “waens” nie deur perde getrek is nie; Saterdag omdat dié plat motors nie enjins het nie.

Die ongewone vorm van dié rygoed was weens hul sonpanele waarmee die batterye gelaai is en die motors oor agt dae al die pad van Pretoria af met ’n wye ompad tot in Stellenbosch gery het.

Die geleentheid was die internasionale 2018-Sasol-sonkraguitdaging waaraan nege spanne – vier van oorsee,vier plaaslike universiteitspanne en ’n Suid-Afrikaanse skolespan – deelgeneem het.

Die sonkrag-wêreldkampioene, die Nederlandse span met hul motor Nuon, het Saterdagmiddag die 2018-Sasol-sonkraguitdaging gewen nadat hulle meer as 4 000 km met net sonkrag­aandrywing op openbare paaie tot in Stellenbosch gery het.

Die laaste skof was van Swellendam oor Bredasdorp en Kaap Agulhas verby Somerset-Wes tot in Stellenbosch.

Nuon, wat altesaam 4 030,4 km met net die krag van die son kafgedraf het, het die Japanse span van die Tokai-universiteit, wat 3 941,4 km afgelê het, naelskraaps gewen nadat hulle ’n strawwe laaste skof gery het.

Die Switserse span, Solar Energy Racers, was derde ten spyte van talle uitdagings op die pad, en het altesaam 2 642,1 km met sonkrag afgelê. Hul kajuitdeksel is vroeg in die agtdaagse ren erg beskadig en die span moes die skade oornag herstel. Die groep studente het die uitdaging oorkom en steeds daarin geslaag om die motor net agter hulle met 300 km te klop.

In die plaaslike stryd het die span van die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT) se motor, Sun Chaser 3, ’n indrukwekkende 2 397 km afgelê – ’n stewige 120,7 km meer as die motor van die Noordwes-universteit, Phoenix.

Die hoërskoolspan Sonke van St. Alban’s College en die St. Augustine-LEAP-skool was sesde algeheel en derde van die Suid-Afrikaanse spanne, en het ’n noemenswaardige 656,9 km met hul heel eerste sonkragmotor nog afgelê – iets wat die twee skole hoop om met die nodige borgskap in die toekoms te herhaal. Die kinders, wat tussen 14 en 18 jaar oud is, het alles van die voertuig self onder die leiding van hul spanbestuurder, die onderwyser Rob Lodge, gebou.

Die nuwelinge van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein en die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie (KSUT) het hul gees getoon deur nooit op te gee nie en het al agt dae van die uitdaging sonder ophou gewerk om probleme met hul motors die hoof te bied. Die Bloemfonteinse span het 110,3 km met sonkrag afgelê. KSUT, wat tot heel laaste deurgedruk het, het 19,2 km afgelê. Al twee spanne het die eindstreep onder groot toejuiging van hul mede-deelnemers weens hul ongelooflike werksetiek oorgesteek.

Die span van die Hongkong-stadsuniversiteit, die enigste deelnemer in die volhoubaarheidsklas wat hul batterye met elektrisiteit mag laai, het 175,5 km afgelê. Hul hiper-realistiese motor, Reysol, was vanjaar ’n groot gunsteling onder toeskouers en hulle is van plan om hierdie ervaring te gebruik om in 2020 met ’n aansienlik verbeterde voertuig terug te keer.

Die nege spanne wat vanjaar deelgeneem het, het almal saam 16 249,1 km afgelê en 18 stede en dorpe aangedoen. Die Sasol-sonkraguitdaging word elke tweede jaar gehou om wetenskap, ingenieurswese, wiskunde en tegnologie (SMET) te demonstreer. Die sonkragmotors het op hul reis deur Suid-Afrika reisende laboratoriums geword wat aan skole by elke dorp waar hulle aangedoen het, gewys het wat moontlik is deur daardie vakke prakties toe te pas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.