Philip van Schalwyk, driemalige Suid-Afrikaanse kampioen in bergfietsry en ’n leerder aan Paul Roos Gimnasium is Dinsdagaand by Kanu-wynlandgoed as Eikestadnuus en Supersport se Let’s Play-sportster van die jaar aangewys.
Van Schalkwyk was een van 12 Stellenbosse sportsterre wat benoem is vir hierdie gesogte prys, wat reeds sedert 2006 jaarliks toegeken word. .
Van Schalkwyk het in Junie die SA titel in die XCO-bekerreeks gewen, asook die SA XCO-marathontitel en in Julie die SA XCO-kampioenskap by die Thaba-byeenkoms in Gauteng.
Hy het ook die gewilde en nasionale Spur-skoletitel in bergfiets gewen en verskeie ander seges in hierdie sport.
Die Stellenbosse para-atleet, Christian Sadie, was die geleentheidspreker. Sadie is die houer van drie Afrika-titels in swem in die S7-klas.
Hy het die leerders gemotiveer en verwys na drie aspekte wat vir enige topsportman of -vrou van belang is.
“Jy moet leer om jou lewe tussen jou akademie, sosiale lewe en jou sport te balanseer. Balans tussen hierdie aspekte is ongelooflik belangrik.
“Jy moet ook ’n vasgestelde roetine begin sodat jy weet wanneer jy wat gaan doen – veral ten opsigte van jou oefeninge en voorbereiding.
“Jy moet ook besef dat jy opofferings sal moet maak. Jy moet besluit dat die lewe wat jy gekies het nie noodwendig jou van ander dinge gaan uitsluit nie, maar dat dit jou doelwit moet wees.”
Sadie het ook klem gelê op die regte manier waarop atlete moet oefen en om die regte ingesteldheid te kweek om reg te oefen. Verder sê hy atlete moet bewus wees van wat om hulle aangaan en daarvolgens optree, ook by kompetisies en dat jy daarop ingestel moet wees om al jou teenstanders te uitoorlê omdat hulle almal kompetisie is.
Dei ander benoemdes vir die Let’Play-pryse was: Carli Antonopouls van Rhenish (swem), Liam Reyneke van Hoërskool Stellenbosch (judo), Carmi Shaw van Laerskool Eikestad (vyfkamp), Minke Shaw van Laerskool Eikestad (moderne vyfkamp), Janke Janse van Vuuren van PRG (driekamp), Anneken Viljoen van Bloemhof (atletiek), Bernhard Andrag van Paul Roos Gimnasium (moderne driekamp) en Maretha Burger van Hoërskool Stellenbosch (tennis).