Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Van der Stel-Evergreens op koers in noordelike liga

Van der Stel-Evergreens (VDE) het Saterdag 30 Junie op die Idasvallei-sportterrein in die derbywedstryd weer gewys dat hy Corries se baas bly.

Hy het die tuisspan op ’n swaar en modderige veld 27-21 geklop nadat Corries met rustyd 15-14 voorgeloop het. VDE het weer ’n voltal ligapunte met vier drieë verdien.

Die besoekers moes die wedstryd eintlik baie verder gewen het as die skoppers Elrico Februarie en Lofrenzo Claassen nie hul skopskoene by die huis vergeet het nie. Tussen die twee is 12 verspot maklike punte voor die pale verbrou.

Die blou trein van Idasvallei het die wedstryd begin asof hulle VDE van sy voete af wou hardloop.

Elrico Apollis van die tuisspan het die bal in die eerste vyf minute tot in VDE se doelgebied geskop, waar Aaqib Arnolds die bal vir Corries se eerste drie toegeval het. Kort daarna het Athon Arnolds met ’n strafskop geslaag, wat die blou trein 8-0 laat voorloop het.

Die besoekers se swaarder pak voorspelers het toe beheer begin oorneem. Die senter Wimpie Steyn het sterk genael en is kort voor die doellyn platgetrek. Die pak voorspelers het Dirkie Lavin daarna oorgedryf.

Minute later is ’n strafdrie aan VDE toegeken nadat VDE se pak voorspelers Corries se pak heeltemal oordonder het.

Die vaste vyf – Riaan Taute, Dillon Faroa, Jacquin van Wyk, Justin van Jaarsveld en Winston Krediet – het uitstekend geskrum en goeie ondersteuning van die lostrio, Vernon Fortuin, Dirkie Lavin en Rantie Thomas, gehad. Thomas se balbeheer en dryfwerk het groot indruk gemaak.

Alhoewel VDE se voorspelers voorlangs heeltemal oorheers het, is geen verdere drieë in die eerste helfte gedruk nie.

In die tweede helfte het Corries ’n groot flater begaan deur Evan Gabriels op skrumskakel te vervang. Gabriels het ondanks die moeilike omstandighede en groot druk daarin geslaag om die bal vinnig by sy agterspelers te kry.

Athon Arnolds, die senter van Corries, het met sy akkurate skopvoet sy span sterk in die prentjie gehou deur 16 punte aan te teken.

Arnolds het tien minute voor die eindfluitjie sou blaas, deurgenael vir ’n drie om Corries 21-17 te laat voorloop.

VDE het toe verwoed aangeval en sy vleuel Ronwill Fredericks het deur­gehardloop vir ’n drie om VDE 22-21 te laat voorloop. In die doodsnikke van die wedstryd was dit weer sulke tyd nadat die voorspelers sterk gedryf en die plaasvervangervleuel aan die steelkant weggestuur het vir die bonuspuntdrie.

Vir die wenspan het Wimpie Steyn (senter) en die twee vleuels, Ronwin Fredericks en Lorenzo Claasen, goeie spel gelewer.

Vir Corries het veral die skakelpaar, Evan Gabriels en Jeffrey Sobashe, tesame met Athon Arnolds en Elrico Apollis, hard probeer.

Drieë (VDE): Dirkie Lavin, Ronwin Fredericks en Keagan Johannes, en een strafdrie.

Doelskop: Elrico Februarie

Strafskop. Elrico Februarie.

Puntemakers (Corries) – drieë: Aaqib Arnolds, Athon Arnolds.

Doelskoppe: Athon Arnolds

Strafskoppe: Athon Arnolds (3).

VDE se tweede span het sy vyfde agtereenvolgende wedstryd gewen deur die tweede span van Corries met 7-0 te klop.

Die tweedes is nou los voor op die punteleer.

Clinton Daniels was die driedrukker en Dominic Williams het die drie verdoel.

VDE speel Saterdag weer weg teen Khayelitsha.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.