Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
VDE ry steeds op golf

Stellenbosch Coronations, oftewel die Blou Trein, het Saterdag weer ontspoor toe Van der Stel-Evergreens (VDE) weer gewys het dat hy Stellenbosch Coronations se baas bly deur die besoekers op die Van der Stel-sportterrein in ’n tipiese derbywedstryd voor ’n geesdriftige skare 26-21 te klop.

Dit was ondanks die feit dat VDE vir bykans 65 minute met 14 spelers moes klaarkom nadat sy uithaler-losskakel, Enrico Februarie, met ’n rooikaart van die veld gestuur is.

Die tuisspan moes op ’n tydstip met net 13 spelers klaarkom toe die slot Fabian Adonis vir 10 minute in die koelkas was. Die telling het gedurig wipplank gery met die rustydtelling 14-11 in die Bloutrein se guns. Coronations se spelers het hulle ook skuldig gemaak aan aanhoudende onkantspel en is met geelkaarte gestraf. Nickolaas Snyman, staatmaker-flank van die Bloutrein, is in die laaste 15 minute van die wedstryd met ’n rooikaart van die veld gestuur.

Ralton Daniels, stelskopper van VDE, het dit vir sy span baie moeilik gemaak deur met verskeie maklike skoppe na die pale te misluk.

VDE het in die eerste helfte met ’n ligte windjie van agter gespeel en van meet af aan op die aanval geboer. Die tuisspan is beloon met ’n drie deur die slot Ralton Daniels, nadat die pak voorspelers sterk gedryf het.

Dillon Faroa, haker van die Bloutrein, het kort daarna oorgebars vir ’n verdoelde drie. Kort voor rustyd het sy losskakel, Charlton Coetzee, weer gaan druk vir nog ’n verdoelde drie.

Lorenzo Claasen, heelagter van VDE, het met slim spel op die 10 m-lyn steelkant om ná ’n losskrum gebreek en deurgehardloop om agter die pale te gaan druk.

Die skop was oor.

Die besoekers het daarna weer sterk aangeval en is beloon met ’n drie deur sy skrumskakel, Sergio Sameuls, wat verdoel is.

Ralton Daniels het kort daarna met twee strafskoppe vir VDE geslaag.

Die flank Junior Henson het VDE se wendrie gaan druk nadat Claasen ’n kortskoppie van sy 25 m-lyn getik en ’n beweging op tou gesit het vir ’n skitterende drie.

Die Bloutrein se agterspelers het egter verskeie kanse om drieë te druk verspeel weens suinige spel.

Vir die wenspan het veral die voorspelers Charles Williams Jnr, Dirkie Laven en Fabian Adonis ’n bars gespeel.

Elviso Gabriels, wat van die plaasvervangersbank gespeel het, het op haker nie net die skrumwerk versterk nie, maar in die vastelos sy kant gebring.

Agterlangs was Lorenzo Claassen, wat die speler van die wedstryd was, saam met Arjoon Swartz en Stefan van der Hoven, uitstaande. Van Hoven het veral met sy dekverdediging beïndruk.

Vir die verloorspan het die veteraanslot Hennie Pietersen goeie lynstaanspel gelewer en verskeie van VDE se lynstane gesteel. Saam met hom het sy broer Nicolaas Snyman en Aubrey Lucas hard probeer terwyl die nuweling-losskakel Charlton Coetzee agterlangs aandag getrek het. V VDE speel Saterdag in nog ’n derbywedstryd teen die voorlopers Blakes op die Van der Stel-sportterrein.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.