In wat seker as ’n geskiedkundige stap beskou kan word, het die Universiteit Stellenbosch (US) sy konseptaalbeleid vir kommentaar oopgestel. Selfs mense wat niks met die US te doen het nie, kry nou inspraak in hoe dié tameletjie in die toekoms hanteer moet word.
En selfs in hierdie vroeë stadium van die bepaling van ’n nuwe beleid vir die US, is semantiek aan die orde van die dag. In die voorgestelde nuwe beleid word verwys na die “handhawing” van Afrikaans op die kampus en as akademiese taal, terwyl die bestaande beleid na “ontgin, beskerm en bevorder” van Afrikaans verwys.
As die US bly by sy standpunt om Afrikaans as akademiese, administratiewe en kommunikasietaal te behou, behoort daar nie veel te verander nie. Die nuwe konsepbeleid beveel ook aan dat Engels op akademiese en institusionele vlak gebruik moet word en dat Engels deur nie-Afrikaanssprekendes as voertaal gebruik moet word. Met die verandering van die demografie van studente aan die US, wil dit lyk asof die gebruik van Engels dan vanselfsprekend die mees algemene gebruikstaal gaan word.
Die voorneme van die US om Xhosa as ontluikende akademiese taal te bevorder, is prysenswaardig, ook gesien in die lig van die groot getalle Xhosa-sprekende studente wat tans hier studeer.
Is dit ’n poging op die status quo te handhaaf en deur die groot openbare deelnameproses vir eens die taaldebat nek om te draai? Dit is te betwyfel dat alle partye met die uitslag van dié proses tevrede sal wees en dit sal veral interessant wees om te sien of die US-raad, prominente politieke groeperinge en die bestuur van die konvokasie mekaar in dié saak sal vind.