Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
2020 op unieke wyse gegroet

’n Groep-kunsuitstalling, Farewell / Hamba kahle 2020, om die afgelope jaar te groet en die toekoms te verwelkom, is tans by IS Kunsgalery in Kerkstraat en Slee-galery in Dorpstraat te sien.

Eikestadnuus het ’n paar vrae aan twee van die deelnemende kunstenaars gestel.

Susan Grundlingh sê sy fokus deesdae baie op plante en bome – veral inheemse plante. “My ouers het ’n kwekery besit en my liefde vir plante het daar begin. Ons het ’n plaas in die Karoo teenaan die Klein Swartberge waar ek baie gaan stap en die plante begin skilder het. Ek is gek oor die beeldhouagtige plante van die Karoo!”

Volgens Grundlingh handel haar kunswerke ook daaroor om te “behoort” en oor “verskuiwing”.

“Oor die afgelope paar jaar was daar ’n skuif vanaf verskuiwing na plekke soos ek bewus geword het vir my liefde vir plante in die plek waar ek gemaklik voel.

“Plekke en grond was nog altyd ’n emosioneel belaaide onderwerp. Ons Suid-Afrikaanse landskap is deurdrenk in ’n geskiedenis van verskuiwings en voortgaande konfrontasies oor grond.”

Volgens Grundlingh het slegs die lug en plante alle eienaarskap trotseer. “Hierdie plante het in soms moeilike omgewings met ’n oorvloed in kleur en vorms aangepas. Gaan hulle die groeiende bedreigings deur die mensdom in hul omgewings in die toekoms deurstaan?”

Oor die impak van die Covid-19-pandemie op haar werk, vertel Grundlingh sy het ’n solo-uitstalling gehad wat twee dae voor die begin van die nasionale inperking opgehang is. “My uitstalling moes op ’n aanlyn uitstalling vertoon word en alles is uitverkoop. Ek kon dit nie glo nie! Ná die sukses het ek net aangehou werk. Ek was in overdrive. Covid-19 het dus min verskil gemaak. Ek werk in elk geval in isolasie en geniet dit.”

Vernon Swart, ’n gebore Stellenbosser, sê sy werk vir die uitstalling is kort voor die begin van die nasionale inperking voltooi. “Dus is dit nie gemaak met die uitstalling in gedagte nie, maar die tema Farewell / Hamba kahle sluit wel aan by die atmosfeer van melancholie en verlange wat ek met my werk probeer oordra.”

Hy vertel verder: “Dit is baie opwindend en stimulerend om weer werk in galerye te hê en ander kunstenaars se werk te sien. Ek dink hierdie is ’n besonderse sterk uitstalling, in pragtige ruimtes.”

Swart sê nadat hy oor die aanvanklike skok van die inperking gekom het, moes hy sy werkswyse in oënskou neem. “Ek kon nie by die landskappe en die see uitkom nie, met die gevolg dat my werk afhanklik was van ander bronne. Dit het veroorsaak dat ek die bemarking en verkoop van werk op ander platforms verder moes ondersoek.”

Swart maak kuns van “so ver terug” as wat hy kan onthou, maar werk van 1998 af as voltydse kunstenaar.

Hy het voorheen by die PJ Olivier-kunssentrum gewerk en aandklasse gegee.V Die uitstalling duur tot 31 Januarie 2021. Tye: Weeksdae 09:00 tot 17:00. Naweke 09:00 tot 14:00.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.