Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Bloemhoffers op die planke by Fraserburg-toneelfees

Leerders van Hoër Meisieskool Bloemhof sal te sien wees by vanjaar se Logan-toneelfees in Fraserburg.

Hierdie jaarlikse fees word weer van 31 Julie tot 4 Augustus in die skoolsaal van Hoërskool Fraserburg gehou. Dit is die oudste fees in Afrikaans wat aaneenlopend op een plek aangebied word en vanjaar word die fees die 43ste keer op die planke gebring.

Altesaam 37 produksies is by dié toneelfees op die spyskaart.

Bloemhof Meisieskool is Vrydag 3 Augustus op die planke met die produksie tot stof/tot stilte met die regie deur André Gerber.

“Agt nuwe skole kom vanjaar aan die fees deelneem. Ons is bly daaroor. Dit is ’n teken dat skoletoneel gesond en aktief is. Dit moedig die leerders net nog meer aan as hulle hul produksie op toer kan neem,” gesels Gerhard Visagie, voorsitter van die Logan-toneelfees in Fraserburg.

“Ons word oorval met versoeke vir verblyf. Oor die 450 leerders neem deel en ’n slaapplekkie moet vir almal gevind word. Die dorp het ’n beperkte aantal gastehuise, maar gelukkig stel party huiseienaars hul wonings vir die feesgangers beskikbaar. Dit help al baie!”

Van die land se toptoneelskole wedywer in die Logan-toneelfees vir die wenpryse en die feeswenners dring gewoonlik deur na die ATKV-
eindronde.

“Logan is ’n toneelfees in die ware sin van die woord, en nie ’n kompetisie nie,” sê Visagie. “Maar ons weet skole gebruik die fees om aan hul produksies op pad na die ATKV-eindronde te slyp, daarom is die beoordelaars se terug­voering so belangrik.”

Die beoordelaars vir vanjaar se Logan-toneelfees is ervare toneelhande. Hulle is Nicole Holm (bekend vir haar rol in Boekklub op kykNET), Ilne Fourie (’n teaterfoendi van Bloemfontein) en Vilje Maritz (bekend vir verskeie televisie- en rolprentrolle) en hulle sal moet kopkrap om al die feeswenners aan te wys. Pryse word ook toegeken vir spel, regie, teks en tegnies.

“Een van die wonderlike kenmerke van tienertoneel is hoe die leerders toenemend betrokke raak by al die aspekte van toneelwerk – tegnies, teks, grimering, dekor en choreografie. Dis werklik ’n spanpoging om ’n produksie op die planke te bring. Van die beste produksies is van hoogstaande gehalte. Dis werklik professionele werk!”

V Die volledige feesprogram en ander inligting is beskikbaar op die fees se Facebook-webblad onder Fraserburg Logan Toneelfees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.