Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Blomme se skoonheid op doek vasgevang
Paula van Coller-Louw

Verruklike kleure en tek­sture saamgevat in ’n beson­dere uitstalling wat Moeder Natuur asook die La Motte-wynlandgoed se pragtige en unieke blomme vier.

Dít is wat besoekers aan dié wynlandgoed in Franschhoek kan verwag as hulle die Fleurs de La Motte-uitstalling, met kunswerke deur Paula van Coller-Louw, gaan besigtig.

Paula het verlief geraak op blomme, spesifiek die bloeisels wat sy so graag skilder, toe sy en haar man in 2009 na Stellenbosch verhuis het.

“Ek het bewus geword van die buurman se kersie­boom met bloeisels wat so mooi in ons oprit oorgehang het. Met dié bloeisels het ek my ouma se konfyt en haar spesifieke suur konfytkoekies begin mis. Dit het nooit weer dieselfde gesmaak nadat sy heengegaan het nie. ’n Mens aanvaar en raak bewus van die kosbare in die kleine, maar die gemis verdwyn nooit.”

Sy vertel sy voel tuis in haar tuin en tuinmaak is vir haar net so belangrik soos “huismaak” – die mooi, die groei, die versorging en ook die swaarkry soos nou met die droogte.

“ ’n Bloeisel het vir my ’n metafoor van ’n nuwe persoonlike siklus geword. Die bloeisels verwys na ’n nuwe begin van ’n siklus waar die blom in ’n vrug verander om later weer ’n saad te laat val om weer die siklus te begin.”

Dit is dus duidelik waarom Paula gekies is om ’n versame­ling kunswerke vir die Fleur de La Motte-uitstalling te skep. Dié uitstalling is ’n viering van die pragtige blomme waarvoor dié landgoed bekend geword het.

Die uitstalling kombineer die inheemse skoonheid van die fynbos teen die hange van die Wemmershoekberge met velde vol laventel, eksotiese disas, die landgoed se roostuine en die helderkleurige Hanneli Rupert-rose wat besoekers by die ingang inwag.

Om die versameling te skep, het Paula vir ses maande, veral soggens toe haar gr. 4-tweelingseuns by die skool was, die blomme op die landgoed bestudeer om die seisoenale siklus van groei beter te verstaan.

“In die wintermaande is die fynbos besonders, veral net ná die eerste bittermin reëns van dié jaar. Die bergbruid is van die eerste blomme wat ek geskilder het wat in hierdie natuurlike habitat voorkom.

“Volgens oorlewering dra ’n jongheer ’n bergbruid­blom­metjie in sy lapel wanneer hy sy nooi om haar hand vra om sy vrou te word. Daar word verder vertel hoe pienker die blommetjie, hoe groter die liefde.”

La Motte se inheemse tuin met die mooiste Haemanthus-bolplante wat pruik om die museum het haar geïnspireer. Die poeierkwas Haemanthus het haar dadelik laat besef sy moet haar eie kwaste optel en aan die uitstalling begin werk.

Daarna het sy ’n wit Erica geskilder wat soos ’n dansende slang ’n mens langs die dam op die plaas begroet, op pad na die berg. Aan die einde van die 5,6 km-staproete teen ’n berg­hang het sy bewus geword van pienk spikkels, die mooiste en kleinste pienk klokkies – die Erica parviflora.

“Septembermaand is ek weer met bekende bloeisels bekoor wat my altyd gevul het met my huislike herinneringe. Die bloeisels wat vrugte dra om te voed en die inlê van die vrugte om die koue wintermaande te verdra.”

Die trotse ontvangs van die Hanneli Rupert-roos was merk­baar sigbaar soos mens by die La Motte-wynlandgoed inry. Versigtig maar angstig het sy die roos begin skilder – dit was ’n móét om die totale blomme­ryk van die plaas vas te vang.

Biodiversiteit, volhoubaar­heid en aardverwarming is volgens Paula alles goed wat in mens se agterkop tol en dit was vir haar ’n groot inspirasie om te sien daar is ’n natuurlike liefde vir die planteryk by La Motte.

“Daar is ’n inheemse tuin rondom die hoofgeboue, maar die bewaring van die natuur­like wilde groei om die plaas was vir my merkwaardig. La Motte se tuine en omgewing in geheel het my geïnspireer om nuut na die plante wat daar groei te kyk.

“Dit was maklik vir my gemaak deur die mense wat daar werk. Elke werker se liefde vir die tuine en hulle kennis van hulle omgewing het elke blom uniek in konteks van La Motte gemaak.”

V Benewens die Paula van Coller-Louw se kunswerke, kan besoekers sien hoe kunstenaar Toby Megaw ’n lewensgrootte bronsbeeld met die titel “die blosende bruid” skep. Die uitstalling duur tot 15 Julie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.