Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Brou-stories wat jou laat skater

’n Namakwalander wat reeds langer as ’n dekade in Stellenbosch woon en werk, bied Vrydag 3 November haar eerste storievertelproduksie, Xhoulag, by die Drostdy-teater op die dorp aan.

Danneline Ramsden, wat oorspronklik van Komaggas in die Noord-Kaap is, droom al jare lank van ’n produksie waarin sy die stories kan vertel van die sout-van-die-aarde-Namakwalanders wat haar karakter help vorm het. Nou het die droom ’n waarheid geword in ’n eenmalige sang- en woordkuns-vertoning.

Die Namakwalanders sê jy “xhoulag” as jy uit jou maag lag en Danneline belowe om mense op ’n uur lange storievertelreis te neem wat jou sal laat lag en selfs ’n traan sal laat wegpink.

Sy gaan in egte Komaggas-styl verskeie kerk-, kombuis- en hospitaalstories vertel – baie daarvan op eie ervaring geskoei.

“Soms moet ek myself kielie om seker te maak dis nie ’n droom nie. Ek het net een doel – om mense te laat ‘xhoulag’ terwyl ons saam deur my hartland reis,” sê die 44-jarige Ramsden, wat ’n deeltydse ontvangs- en administratiewe assistent by die VCSV is.

In die tradisie van wyle Tolla van der Merwe, aan wie se lippe Danneline as kind gehang het, laat sy behoorlik die tonge klap as ’n nuwegeslag-storieverteller en woordkunstenaar.

Ek het net een doel – om mense te laat ‘xhoulag’ terwyl ons saam deur my hartland reis

Sy is ’n gereelde gas op verskeie radio- en TV-programme, en maak juis later vanjaar ’n gasverskyning in kykNET se Oppiestoep-program waar sy haar stories aan die bekende Andries Vermeulen en Pietman Geldenhuys vertel.

Dié TV-episodes is onlangs in die Paarl opgeneem.

Danneline wil nie te veel oor haar produksie verklap nie, maar sê wel dat sy van haar gewilde “broustories” gaan vertel.

Om te “brou” is die Namakwalandse sêding vir koffiemaak, en sy beloof om mense te laat skaterlag met onder meer stories oor Ouma Eva se xhamkoe-brou en die Kommegas-crèche.

Xhoulag staan onder leiding van die mediapersoonlikheid en skrywer Ivor Price as regisseur, maar plaas uitsluitlik die fokus op Danneline as storieverteller – ’n kuns wat grotendeels deur Afrikaanse mans gedomineer word.

Mense kan ook uitsien na liedjies oor Namakwaland deur Danneline asook Marthie Nel Hauptfleisch, wat haar musikaal gaan begelei.

Kaartjies vir die vertoning wat om 20:15 begin kos R120 en is beskikbaar by Computicket.

Vir nog inligting, besoek www.drostdyteater.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.