Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Drieklawerblaar’ nóg ’n treffer

Saterdag 8 Oktober was ’n triestige dag in Stellenbosch met ’n yskoue wind en die laaste winter­reën wat uit die hemele drup. By Protea-boekwinkel is die glase egter vol geskink en het Christine Barkhuizen-le Roux in ’n kleurvolle rok met Elna van der Merwe gesels.

Ek wonder altyd oor skrywers, want dit is mos maar ’n alleending, en dan moet skrywers rondreis en die boek bekendstel. Hoe hanteer jy dit?

Dit is ’n ander deel van ’n mens se persoonlikheid wat jy dan na vore haal. Ek is lief vir mense, maar dit is die alleenheid op die plaas wat my laat begin skryf het. Ek moes, anders sou ek nie oorleef het nie.

Dit is goed vir my om dinge soos vandag te doen, maar dan weer op my bed met ’n klomp kussings agter my te sit en skryf.

Die een karakter in die boek land op die plaas as ’n jong bruid en dit is vir haar moeilik. Is dit jy?

Nee, dit is Tieneke!

Wanneer jy deur die land toer om jou boeke bekend te stel, het jy al interessante terugvoering van lesers gekry?

Ek was onlangs by Graffiti in Pretoria. By die oggendgeleentheid het daar ’n vrou opgestaan en gesê sy kon nie die boek neersit nie. Dit was vir my baie lekker dat dit uit ’n leser se mond kom.

Dan het daar ’n ouer vrou vir my by die deur staan en wag toe ons uitstap. Sy het na my toe gekom met trane in haar oë en vir my gesê: “Die dinge wat jy in die boek aanraak, is ook kwessies wat ’n rol speel in my lewe.”

Dít is vir my die grootste wat daar is aan skryf. Dat jy êrens op ’n kol iemand kan raak.

Jy skryf romans en kortverhale en het twee digbundels op jou kerfstok. Daarby skilder jy ook. Het jy ’n baie sterk skeppingsdrang?

Ja, van kleins af wou ek graag dinge maak. Ek onthou my sussie was dikwels kwaad vir my, want as sy ’n speletjie wou speel, wou ek dit self maak. En as dit klaar is, wil ek nie verder daarmee speel nie.

Ek onthou hoe ek in Queenstown, toe ek tussen twee en ses jaar oud was, op die agterstoepie gesit het en met verskillende kleure klippies op die sement geteken het.

Opstel skryf op skool was vir my die lekkerste, want dan kon ek self iets maak. Ek hoef nie wat iemand anders geskryf het te memoriseer nie.

Die skrywer Mark Haddon het gesê “as ek nie skryf nie, voel ek soos ’n hond wat nie uitgelaat word nie”. Dit is presies soos ek voel.

Jy is baie betrokke by Nederlands en Nederland, jy het selfs ’n meestersgraad in Nederlandse poë­sie. Waar kom dié liefde vandaan?

Toe ek ’n kind was, kon ’n mens Die kinders van die wêreld-boeke nog uitneem. Ek het daardie boeke oor en oor en oor uitgeneem en die land waarheen ek wou gaan, is Holland. Dit was altyd iets wat my bygebly het.

In matriek het ons ’n Nederlandse voorgeskrewe boek, Karakter, gehad. Tussen die pa en die seun in die boek het daar iets afgespeel wat my my lewe lank bygebly het.

Daar was altyd by my ’n hunkering na Nederland en Nederlands. Ek dink om in Nederlands besig te wees verryk ’n mens se eie taal. Jy kom by die wortels van jou taal.

Padmaker het jy geskryf as deel van jou meestersgraad in skeppende skryfwerk by Etienne van Heerden. Daarna moes jy Getuie en Drieklawerblaar doen sonder dat hy jou hand vashou. Hoe het jy dit gevind?

Ek het hier en daar ’n klankbord. Etienne was vir my soos daardie geel chevron-tekens wat jou waarsku om nie van die pad af te ry nie. Met Getuie was dit vir my skrikwekkend, maar ek moes dit doen, want Getuie het oor my pad gekom. Soos elke boek al oor my pad gekom het.

Elke keer wanneer ek ’n boek begin, dink ek ek gaan dit nie kan doen nie, hoe gaan ek dit doen? En ek wonder ook hoekom kies ek vir myself sulke moeilike onderwerpe, maar dit maak dit ook interessant.

Daarom raak skryf nooit vervelig nie, want met elke nuwe onderwerp leer jy nuwe goed by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.