Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Fees vier formidabele vrouedigters

Kom kyk, luister en beleef hoe verskillende digters, kunstenaars, musikante, liefhebbers van poësie en mense uit verskillende gemeenskappe, taal- en kultuurgroepe digkuns ervaar by die sewende jaarlikse Tuin van Digters.

Hierdie projek, wat deur die Breytenbachsentrum aangebied word, word Vrydag 14 en Saterdag 15 September 2018 by die sentrum se perseel in Wellington gehou.

Die tema van vanjaar se Tuin van Digters is “buitedieboek”.

Uiting word op nuwe en anderste wyses deur woordskeppings, kuns, openbare ruimtes, musiek, klank en sang aan woorde, frases en gedigte gegee – in Afrikaans, en deur ander tale in Afrikaans, en andersom.

Klem word in die program gelê op vertaling uit Afrikaans na ander tale en hoe buite die boek, en “buite die boks”, gedink sowel as gedoen kan en moet word om Afrikaanse gedigte aan ander taalgroepe, spesifiek Engels- en Xhosa-sprekendes (die Wes-Kaap se twee ander ampstale) en ander tale bekend te stel.

’n Groepsgesprek hieroor word deur PEN Afrikaans aangebied.

Afrikaanse, Engelse en Xhosa-digters sal van hul werke in die oorspronklike taal voorlees, met die vertalings van die gedigte in die agtergrond op skerms.

Digters wie se gedigte in die
US Woordfees-bundel, ConVerse, in die drie tale vertaal is, neem hieraan deel.

Ander programitems wat die tema buitedieboek aandurf, sluit in Breyten in Engels deur Ampie Coetzee, wat besig is om gedigte van Breyten Breytenbach in Engels te vertaal; die identiteit en poësie van hip-hop deur Annie Klopper, wie se doktorstesis hieroor handel, en ’n bespreking en uitstalling van Parys Suite, ’n publikasie van gedigte buite die tradisionele konteks van ’n gepubliseerde bundel, met die middelpunt daarvan ’n poësiefilm deur Diek Grobler met drie gedigte deur Carina van der Walt.

Digters van die digprojekte van die Breytenbachsentrum – insluitend leerders van die Weltevrede Skool en die digter Diana Ferrus se Mengelmoesdigters – wys wat buite die boek met gedigte gedoen kan word – in die skryf en in die oordra daarvan.

Kunstenaars wys in die groepuitstalling in die Breytenbach-galery wat hulle met die woorde van gedigte kan maak.

Die feeskunstenaar Henk Serfontein haal in Handskrif sewe formidabele vrouedigters, naamlik Jeanne Goosen, Antjie Krog, Wilma Stockenström, Lina Spies, Diana Ferrus, Melanie Grobler en Joan Hambidge, behoorlik uit hul bundels.

Daar is ook sang en voordrag deur digters en kunstenaars wat elkeen op ’n eie manier buite die tradisionale boek dink en skep.

Hulle sluit in Daniel Hugo en Yves T’sjoen wat praat oor Vlaamse digters in Afrikaans, Willemien/Philomène& in Afrikaans en Frans en die Kaapse bekendstelling van Ons Klyntji Internasionaal.

Voorlesings, toonsettings van gedigte en optredes deur onder andere Carel Trichardt, Petro Wessels, Niel Rademan, Elsabé Daneel, Toast Coetzer en The Buckfever Underground met geïmproviseerde musiek en voordrag van Afrikaanse en Engelse gedigte, Tribal Echo, Laurinda Hofmeyr met Afrique mon désir, en ’n verering van die Joods-Afrikaanse digter Olga Kirsch met ’n biografie deur Egonne Roth, is ook op die program.

V Kontak Jeanne-Marie Gerber by 2 besprekings@breytenbachsentrum.co.za of 0 021 873 2786 vir nog inligting oor hierdie unieke fees wat jaarliks in Wellington gehou word..

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.