Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Geliefde Kleinsêr sing nou nuwe deuntjie

Kleinsêr, ’n geliefde tradisie by die Universiteit Stellenbosch (US) wat jaarliks groot gehore van heinde en ver gelok het, sal voortaan in ’n nuwe formaat aangebied word.

KuKo, die kultuurkomitee van die US se studenteraad (SR), het ’n nuwe formaat vir die kompetisie geskep. Dit sal in die toekoms as die Stellenbosch Universiteit A Capella (SUAC) bekendstaan.

“Ons wil bou op die ryk singkultuur by die US, wat al in 1946 hier begin is toe die eerste sangkompetisie, bekend as die Sangfees, by die universiteit aangebied is,” sê Blaine Josephs, die KuKo-voorsitter en SR-lid vir kuns en kultuur.

“SUAC vier diversiteit, die Suid-Afrikaanse identiteit, kultuur, nuwe grense en uitdrukking en bou op die sukses van die universiteit se sterk singtradisie.”

SUAC verskil van vorige jare se Kleinsêr omdat dit spesifiek inklusiwiteit beklemtoon en musikaliteit bevorder. Dit is as ’n vervanging vir die Kleinsêr aangebied om te verseker dat dié kompetisie relevant en toekomsgerig bly.

Die 34 ensembles wat in drie kategorieë (mans, vroue en gemeng) aan vanjaar se a capella by die US deelneem, is ’n bewys van die kompetisie se gewildheid.

“Die kompetisie omarm ’n wye reeks genres en tale en streef daarna om ‘plaaslik relevant en internasionaal uitstekend’ te wees. Die ensembles sal dit hul doel maak om Suid-Afrikaanse musiek te bevorder asook jong, plaaslike talent te ontwikkel.”

Dit is die eerste keer dat die universiteit ’n a capella-kompetisie aanbied. Ensembles is voorheen toegelaat om ’n verskeidenheid instrumente in hul optredes te gebruik, terwyl slegs sekere instrumente nou gebruik mag word.

Ensembles moet ook ’n Suid-Afrikaanse lied in een van die elf amptelike landstale asook hul eie komposisie by hul optredes insluit.

V Die eindronde van SUAC word Woensdag 29 Augustus in die Endlersaal gehou. Kaartjies is van 27 Augustus van 06:00 af by die SR-kantoor in die Neelsie-studentesentrum beskikbaar (beperk tot twee per persoon).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.