Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Hond kry sy dag in Miles se nuutste roman

John Miles het op 26 November sy sewende roman, Op ’n dag ’n hond, tydens ’n gesprek met die departement van Afrikaans en Nederlands se Louise Viljoen in Protea Boekwinkel bekendgestel.

Waarom het jy juis ’n karakter wat ’n onderwyser is, wat ook van tevore ’n universiteitsdosent was, gekies as jou hoofkarakter?

Dít is die derde roman wat geskryf is tydens my verblyf op die Bokkeveld. Ek het gedink ek wil hierdie keer ’n ouer man kies, nader tuis miskien, en sy beroep is ook nader tuis.

Ek het weer ’n keer ’n karakter gekies wat ek drie dae loslaat en hoe verloop dié drie dae in sy lewe?

Die hede is waar alles vandaan kom, die skeppende tyd, maar die gewig van die verlede neem toe en hy dra dit saam met hom in die toekoms in. Die toekoms is niks, die toekoms is moontlikhede en die moontlikhede waarin hy die volgende uur of die volgende dag sy lewe kan voortsit, is dít waarmee ek gewerk het.

In die begin word hy bekendgestel – hy sien homself asof iemand buite in die tuin staan en na hom kyk – dit is ’n soort bekendstelling. Dan sien jy ook byvoorbeeld die titels van boeke agter op die rak en dit is toevallig die boeke wat ek die afgelope jare gelees het maar dit is ook die boeke wat hy gelees het.

Maar hy is nie ek nie. Daardie boeke is ’n manier van erkentlikheid – ek is nie een vir ’n lysie waar ek so en so bedank nie – ek verkies om dit liewer in die verhaal te betrek.

Waarom speel toeval so groot rol in jou roman en is daar ’n verskil tussen toeval en die noodlot?

Dit is een van die motiewe waarmee ek gewerk het. Ek dink dit is ’n wanopvatting dat jy dink jou lewe het ’n plan, want dit is gewoonlik terugskouend dat jy die plan ontdek, terwyl as jy behoorlik rekenskap gee dan laat jy nie die rol van die toeval uit nie.

Ek wil beklemtoon dat kans en toeval ’n geweldige groot rol speel, máár dit neem nie jou verantwoordelikheid weg nie. Jy het byvoorbeeld geen beheer oor jou geboorte nie en die onderwyser [in die boek] weet dit, maar hy ken sy verantwoordelikheid. Dit is die rede hoekom hy stad toe gaan – hy wil sy huis afstaan aan sy dogter.

Kan jy iets meer sê oor die rol wat gegewens in die roman speel asook iets oor die manuskrip?

Dit is ’n uitdaging om van goed te praat – en nie eintlik oor die volle betekenis van die geladenheid van daardie voorwerp nie.

Die hond is in die begin ’n hond want ek probeer hom ’n hond maak, hy moet eers ’n hond wees voordat hy iets anders kan wees. Die manuskrip waaraan hy werk is sy poging om sy oorlede vrou se werke te vertaal.

Dít word dan nie so ’n onskuldige daad nie, want hy voeg allerhande goed by wat eintlik nie met haar te doen het nie. Dit is die suggestie.

Daar word ook verwys na die verhaal van die hond wat in die doderyk ’n weegskaal vashou waarop die mens se hart geweeg word. Hierdie afbeelding van die hond word ook gebruik om afdelings te skei. Kan jy iets daaroor sê?

Ek wil eers sê dat daar darem ’n paar grappies in die boek is. Die hond se naam is Bluf, maar die dierebeskermingsman wat Engels praat, noem die hond Blaf en die hond reageer nie op hom nie. Die hond is Afrikaans.

Daar word ook aandag gegee aan wat ’n hond van taal weet en hoe die hond na my kyk.

Die onderwyser is baie bewus daarvan en dit pla hom eintlik, hoekom het die hond hom uitgesoek? Die onderwyser dink oor die hond wat uiteindelik jou lewe weeg.

In sy geval is dit ’n persoonlike ondersoek na a-moraliteit: as ek geweeg word, gaan my hart ligter wees as ’n veer want die hond laat net dít toe.

Die skildery word ’n tipe buite-literêre lei-motief. ’n Mens kry die indruk dat die onderwyser by tye oorval is deur die gevoelens van verlies, maar uiteindelik verloop die roman na ’n positiewe einde.

Hoekom noem jy die laaste afdeling “Vroeër of Later”?

Die Sisyphus-beeld speel ’n rol in die roman, maar dit is nie ’n negatiewe beeld nie want elke keer as Sisyphus die klip optel, dan dink hy dit kan bo bly en hierdie herhaling hét die potensiaal vir die klip om bo te kán bly, vroeër of later.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.