Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Koue kos wat jou met ’n warm gevoel laat

’n Mens dink nie as jy skryf, dat iets van ’n boek gaan word nie, jy hoop maar net iemand lees dit.

Só sê skrywer Marita van der Vyver oor haar roman, Dis koue kos, skat, wat binnekort as fliek in rolprentteaters sal begin draai.

Sy verklap dat daar al in een of ander sta­dium belangstelling was om omtrent al die romans wat sy al geskryf het, te verfilm.

“Ek het ook al bietjie skepties geword as mense sê hulle wil movies maak van iets wat ek geskryf het, want Griet skryf ’n sprokie sou ook 20 jaar terug ’n movie gewees het.

“Aan die begin het ek opgewonde geraak daaroor, nou sê ek net ‘Ja, ons sal sien as die rolprent uitkom’.”

Toe die rolprent se vervaardiger, Deon Meyer, haar gekontak het, het sy geweet dit is hierdie keer ’n ander storie.

“Hy is ’n ou vriend van my, ons ken mekaar al van lank voor een van ons famous geword het. Hy is iemand wat ek vertrou en hy het gedink dit kan werk.”

Aanvanklik sou dit ’n klein rolprent met ’n beperkte begroting gewees het. Toe begin die ding sneeubal en kykNET sê hulle wil betrokke raak.

“Ons was aanvanklik nie so seker daaroor nie, want ons wou nie beheer oor die rolprent verloor nie. Maar uiteindelik het alles baie goed uitgewerk.

“Ek het ingestem om medevervaardiger te wees, wat beteken het dat ek meer van ’n sê gehad het oor die akteurs en die vervaardiging. Dit was ’n groot leerkurwe vir my gewees. Baie lekker.”

Anders as met die vervaardiging van Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, het sy besluit om betrokke te wees by meer as net die skryf van die draaiboek.

“Hierdie keer het ek besluit ’n mens moet die ervaring gebruik om seker te maak dat die draaiboek reg is en die akteurs en regisseur reg is. Dan is die helfte van die stryd verby.”

Die fliek spog met geliefde akteurs soos Anna-Mart van der Merwe (Clara), Frank Opperman (Ari), Deon Lotz (Bernard), Elzabe Zietsman (Minette) en Angelique Gerber (Anaïs).

“Daaroor is ek baie happy. Terwyl ek en die regisseur aan die draaiboek geskryf het, het ek aan akteurs gedink wat moontlik die karakters kan speel.

“Ek het nogal gedink dit sal nice wees as Anna-Mart Clara kan wees, maar ek het glad nie met haar daaroor gepraat nie, so dit was fantasties toe sy ja sê vir die rol.

“Ek het gehoop dat Elsabe Minette sou wees, want ek het haar in die rol gesien. Deon Lotz wou ek lankal iets mee doen. Almal het net so een vir een in hul karakters geval.”

Ek dink die fliek is dalk nog meer hoopvol as die boek.

Lotz, wat die rol van Bernard speel, se snor is ’n toevallige toevoeging tot die karakter wat sy nie verwag het nie. “Ek het Bernard definitief nie met ’n snor gesien nie, maar Deon moes die snor hê vir ’n ander rolprent wat op dieselfde tyd geskiet is.

“Ek dink mense is soms teleurgesteld as die prentjie in die rolprent nie dieselfde is as wat hulle in hul koppe gehad het nie, maar Deon is so goed, ek dink hulle gaan vinnig daarvan vergeet.”

Sy was net so beïndruk met die rolprent se regisseur, Etienne Fourie, wat nog net 27 jaar oud is en reeds drie rolprente agter sy naam het. “Ek dink die rolprent het so goed gewerk juis omdat hy en die res van sy span agter die kameras so jonk is.

“Daar was ’n baie lekker dinamika tussen die jong mense agter die kameras en die ouer akteurs aan die ander kant. Dit was entoesiasme en ervaring wat saamgekom het.”

In ’n see van Afrikaanse rolprente met jong akteurs en soetsappige liefdesverhale, is Dis koue kos, skat ’n unieke aanbieding – “ ’n romantiese komedie vir slim grootmense”.

“Meeste mense wat nog flieks by ’n rolprentteater gaan kyk, is middeljarig. Dit is goed as jy daardie generasie kan capture.

“Rolprente soos The Best Exotic Marigold Hotel het my laat besef dat daar nie net ’n groot gehoor is vir sulke rolprente nie, maar ook ongelooflike moontlikhede.”

Alhoewel baie tonele in die boek by die rolprent uitgelaat moes word, is een van die tonele waar Clara gereed maak om vir die eerste keer ná haar egskeiding op ’n date te gaan, een wat ingesluit is.

“Dit is ’n situasie wat soveel ouer mense deesdae ken. Jy was lank getroud, nou word jy omtrent vir die wolwe gegooi. Jy was 20-jaar oud toe jy laas ge-date het, jy voel so weerloos. Daar is ’n lekker scene of twee.”

Ten spyte van die hartseer en teleurstellings in die rolprent, glo Van der Vyver die gehoor sal wegstap met ’n gevoel dat daar wel hoop is.

“Ek dink die fliek is dalk nog meer hoopvol as die boek. Dit het ’n baie lekker upbeat-einde – soos wat flieks mos maar moet hê.”

* Dis koue kos, skat is landwyd te sien.

Anna-Mart van der Merwe (Clara), Frank Opperman (Ari) en Elzabe Zietsman (Minette) in ’n toneel uit Dis koue kos, skat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.