Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Liza Dinsdag in Grand West op klavier te hoor

Die liedjie is een van die geliefste Afrikaanse liedjies wat Koos Kombuis ooit neergepen het, maar min mense weet dat die Liza van Liza se Klavier, ’n inwoner van Stellenbosch is.

“Ek het in ’n stadium in Kaapstad gewoon, op die hoek van Oranjestraat naby die Mount Nelson in ’n snaakse woonstelblokkie,” vertel klavierspeler Liza Joubert.

“Koos Kombuis het in daardie stadium baie naby aan my gebly. Ons het mekaar op Stellenbosch ontmoet, toe ons saam in ’n straatteater-produksie opgetree het.

Liza vertel die JS Gericke-biblioteek by Universiteit Stellenbosch is as amfiteater gebruik toe sy destyds daar studeer het.

“Ek en Koos het begin gesels en agtergekom ons bly baie naby aan mekaar en hy kom kuier toe later by my. Maar toe rook hy.

“Ek het vir hom gesê dis geen probleem nie, maar asseblief net buite. So hy het buite op die stoep gerook en tee gedrink terwyl ek vir hom klavier gespeel het. Baie by my kom kuier. Elke keer op die balkon gaan staan en rook. En toe het hy die liedjie geskryf.”

Sy sê die liedjie is presies waar. Elke woord in die liedjie is presies waar.

Aanvanklik het sy moeg geraak daarvoor dat mense haar vra of sy die Liza van die bekende liedjie is. “Ek het so moeg geraak van mense wat vir my vra is jy die Liza van Liza se Klavier dat ek al vir mense gesê het nee, dit is nie ek nie, maar toe sê my vriendin vir my ek moet nie so wees nie.

“Ek moet vir mense, as hulle my reguit vra, sê ‘ja’ sonder om ’n groot storie daarvan te maak. Toe dink ek, weet jy wat, die liedjie het nie vloekwoorde in nie, dit het nie politiek in nie, dis ’n baie skoon liedjie. So why not? Hoekom moet ek skaam wees daaroor?”

Sy voel egter nog steeds dat almal nie aan haar moet dink as die Liza van die liedjie nie.

“As jy die liedjies luister en jy ken nie vir my nie, gaan jy in jou verbeelding iets optower oor hoe sy lyk en is en daardie Liza dink ek is die een wat in jou kop moet leef. Eerder as ’n 51-jarige ma van twee kinders. Dis nie ’n vreeslik romantiese prentjie nie,” skerts sy.

Liza kom oorspronklik van Stellenbosch en wou al van kindsbeen af ’n klavierspeler gewees het.

“My ma en pa kon albei klavier speel, maar ek het dit nie geweet nie, want ons het sonder ’n klavier in die huis groot geword.”

Haar ouma in Heidelberg het ’n klavier gehad, maar omdat al haar niggies en nefies gewoonlik saam daarop wou speel, was dit verbode.

“Vandat ek vyf was, het ek my ma gesmeek: ‘Asseblief, kan ons nie ’n klavier kry nie’. Uiteindelik, toe ek agt was, het ons ’n klavier gekry. Ek het begin lesse neem en nooit opgehou nie.”

Baie meisies wil verpleegsters of juffrouens word, maar Liza wou net klavier speel en musiek studeer.

Gelukkig was daar niemand wat haar probeer ontmoedig het nie.

“My ma is ’n verpleegster en my pa ’n wiskundige. My broer is ’n kameraman en suster is ’n joernalis. My pa het vir my ma gesê as ‘ons kinders in kreatiewe rigtings wil ingaan, moet hulle dit doen’.

“Ek is baie geseënd om ’n pa te gehad het wat ’n wiskundige is, maar gesê het ek kan dit gaan doen. Dit was ook my ma se houding.

“Toe ons die klavier in die huis gekry het, het hulle ook weer begin speel. Ek was totaal verbyster, ek kon nie glo my ouers kon klavier speel en hoekom daar dan nie ’n klavier in die huis was nie.”

V Liza Joubert is Dinsdag 9 Augustus by Grand West se Grand Arena as deel van die Divas Unite, Kaapstad se jaarlikse Vrouedag-konsert, te sien. Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R180–R220 en R120 vir kinders (6-12).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.