Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Nuwe boek oor indringers kan wêreldwyd byval vind

As jy bekommerd is oor indringerspesies of nog altyd meer daaroor wou weet, is ’n nuwe boek wat oor alle aspekte van biologiese indringing in Suid-Afrika handel, gewis vir jou bedoel.

Die boek, Biological Invasions in South Africa, het onlangs as ’n Open Source- ensiklopediese boek verskyn. Dit verskaf inligting aan lesers oor 1 422 indringerspesies, insluitend plante, voëls, soogdiere, visse, grondkruipende ongewerwelde diere, indringer-see-organismes en mikro-organismes wat siektes veroorsaak en wat genaturaliseer of die land binnegedring het.

Die boek se 31 hoofstukke dek onderwerpe soos die geskiedenis van navorsing in Suid-Afrika, gedetailleerde beskrywings van hoofgroepe plante en diere, beleidsontwikkeling, die ontwikkeling van ’n gesonde ekologiese teorie oor biologiese indringing, die doeltreffendheid van bestuursingrypings en toekomstige scenario’s rakende biologiese indringing in die land.

“Daar is min, indien enige, boeke wat hierdie vakgebied so omvangryk op ’n nasionale vlak vir enige land ter wêreld dek,” sê prof. Brian van Wilgen van die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) en die departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

“Hoewel baie boeke oor biologiese indringing bestaan, dek die meeste net ’n spesifieke aspek van die probleem, of ’n spesifieke groep spesies.”

Sy mederedakteurs was sy kollegas proff. John Measey en Dave Richardson asook prof. John Wilson en dr. Tsungai Zengeya van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut.

Meer as 100 navorsers, praktisyns en nagraadse studente wat verskillende aspekte van indringerspesies ondersoek, het tot die boek bygedra.

Van Wilgen sê hulle wou ’n omvattende naslaanwerk lewer wat as ’n onderrig- en navorsingsinstrument en inligtingsbron vir bestuurders op hierdie terrein kan dien.

“Die boek verskaf inligting oor die bekende uitwerkings van indringerspesies in die land. Indringerbome verbruik byvoorbeeld sowat 5% van ons skaars waterbronne, verminder die dravermoë van ons natuurlike gras- en weivelde en hou ’n direkte bedreiging in vir die voortbestaan van sowat die helfte van 1 600 inheemse spesies wat op Suid-Afrika se Rooi Datalys verskyn. Spesies wat veral skadelik is, sluit in Amerikaanse en Europese dennebome en Australiese akasias wat die fynbos en grasvelde binnedring, die afloop van water verminder, inheemse spesies bedreig (waarvan sommige net in Suid-Afrika voorkom) en die intensiteit van veldbrande verhoog; Amerikaanse mesket-doringbome (Prosopis) wat die droë Karoo en droë savannes binnedring en dan die veeproduksie op sommige plase feitlik onmoontlik maak; en ’n nuwe inkomeling, die indringer- veelvretende skietgat-houtkewer wat plataanbome, eikebome, avokado’s en baie ander boomsoorte reg oor Suid-Afrika kan uitwis.”

Die dryfveer agter die boek was volgens Van Wilgen die feit dat die laaste (en enigste) sintese oor hierdie onderwerp op ’n nasionale vlak in 1986 – 34 jaar gelede – verskyn het, en dus was ’n nuwe sintese oor hierdie groot en groeiende probleem nodig. “Ons regering het die afgelope 15 jaar aansienlik in die vestiging en instandhouding van die SIB belê. Dit was dus ook nodig om ’n oorsig te gee van wat ons geleer het en om ’n omvangryke sintese te verskaf wat die volgende geslag navorsers en bestuurders kan gebruik.”

Hy voeg by hul breedvoerige dekking was om verskeie redes moontlik, insluitende Suid-Afrika se lang geskiedenis as ’n leier op die gebied van die hantering van indringerspesies (in navorsing en in bestuur) en danksy ruimhartige finansiering wat die afgelope 20 jaar vir navorsing, opleiding en bestuur beskikbaar gestel is.

“Suid-Afrika het ook as ’n wêreldleier op hierdie gebied ontluik, en vaar baie beter as wat verwag is in navorsing, opleiding en bestuur. Die SIB het sedert sy ontstaan in 2004 altesaam 1 750 navorsingartikels die lig laat sien en 129 meesters- en 67 doktorsgrade toegeken. Dit is ’n aansienlike bydrae tot die uitbouing van kapasiteit en transformasie op hierdie gebied.”

Die SIB hoop die boek sal nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd ’n belangrike naslaanwerk en onderriginstrument vir baie jare wees, sê Van Wilgen.

“Dit sal gewis baie wyd buite ons grense gebruik word en ons hoop dit sal veral vir ander lande in Afrika tot nut wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.