Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Puik vermaak vir almal

Die Suidoosterfees doen sy slagspreuk, “’n Fees vir almal!” in 2021 gestand met ’n verskeidenheid produksies van 26 April tot 2 Mei by Artscape.

Volgens Jana Hattingh, uitvoerende hoof, is dit vir die fees belangrik om steeds werksgeleenthede vir kunstenaars te bly skep en aan gehore ’n veilige teaterervaring te bring waar hulle die beste vermaak kan geniet. Aangesien die fees in die skoolvakansie val, is opwindende kinderteaterproduksies en gesinsvermaak op die program ingesluit.

In Pietersielie en Roosmaryn vertel stories! reis twee karakters die wêreld vol met hul towerkaravaantjie, op soek na kinders om stories mee te deel. Dié vermaaklike kinderteaterproduksie is saamgestel deur Dean Balie en Bianca Flanders. Balie het pas ’n Sinjatuurtoekenning by kykNET se Fiëstas ontvang, en Flanders is ’n aktrise en skrywer van die gewilde kinderboek Prinses Pampoenpit.

Ekstr-r-r-avangza is ’n grensverskuiwende produksie waarin die beste kunstenaars uit verskeie genres bymekaarkom. Feesgangers sal hulle verkneukel aan items wat wissel van sirkustoertjies tot dans en van klassieke musiek en ballet tot sang. Komediante is ook in dié kleurryke aanbieding, wat die hele gesin sal betower, te sien. Wenners van die Suidoosterfees se ontwikkelingsprojekte tree ook hierin op.

Mense wat mal is oor komedie, gaan nie teleurgesteld wees nie. Nik Rabinowitz gaan die lagspiere prikkel in Nik Rabinowitz: Late Bloomer, en Wayne McKay en Mariette Loubser gaan feesgangers laat skater in Lag saam.

Musiekliefhebbers kan uitsien na die volgende op die Suidoosterfees-spyskaart: A Night at the Musicals met die sopraan Lynelle Kenned, die bariton Niël Rademan en Lucas Heinen op klavier. Dié produksie, waarin musici klassieke en ligter style afwissel, sal gehore wegvoer na die wonderwêreld van die musical.

Die Sama-wenner Anna Davel vier die veelsydige, sielvolle Shirley Bassey se ongelooflike talent in Shirley Bassey – Diamonds are forever, met die grootste treffers uit die wêreldster se repertoire.

Aanhangers van klassieke musiek kan naderskuif vir Herfs – ’n 20-minuut-opera in een bedryf. Die operasanger en komponis Raimondo van Staden-Slabbert se nuwe operapartituur, Herfs, volg die verhaal van twee bejaardes en hul struwelinge met die wêreld terwyl hulle regmaak vir hul finale sielshoofstuk. Hierdie vrolike, dramatiese partituur met ’n romantiese inslag is plesierig op die oor.

Internasionale Jazzdag word vanjaar wêreldwyd op 30 April gevier. Om in hierdie spesiale geleentheid te deel, kan feesgangers hulle verlustig aan die lieflike klanke van die Ramon Alexander-kwartet, met Ramon Alexander, Byron Abrahams, Annemie Nel en Valentino Europa op die verhoog.

Drome het vlerke bekyk die ervarings, uitdagings en drome van vyf jong liedjieskrywers wat uit verskillende agtergronde kom.

Die liedjieskrywers se oorspronklike materiaal en komposisies is onder leiding van Frazer Barry verfyn tydens die eerste liriekskryfskool wat in 2020 deur die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting aangebied is.

Sewe debuutproduksies van die NATi Jong Sterre-projek is ook op die program, sowel as agt NATi Teaterfees-produksies en elf uitmuntende gesprekke, aangebied deur die Jakes Gerwel-stigting.. Die volledige program is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies kan by Computicket bekom word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.