Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Rare briewe lei tot debuutroman

’n Bewondering vir die skrywer Etienne Leroux en inspirasie geput uit sy loopbaan as joernalis.

Dít is wat Peet van Aardt gehelp het om sy debuutroman, Vier en Veertig, Agtien (Naledi-uitgewers), te skryf.

Dié roman wentel om die briewewisseling wat in 1966 tussen Etienne Leroux en Ingrid Winterbach ontstaan het, en die joernalis Philip Snyman wat dit byna 50 jaar later wil gebruik om sy loopbaan te red nadat sy meisie in ’n motorbotsing gesterf het.

Maar dit is nie so eenvoudig nie: Vinnig begin Philip raaisels en verskuilde boodskappe in die briewe raaklees wat hom op ’n onverwagse, tragiese verkenningstog plaas van nie net Leroux nie, maar ook homself.

Hy raak al hoe meer obsessief. Hy trek vreemde verbande en dit blyk uiteindelik dat hy ’n ernstige versteuring het. Hy praat met homself. Van Aardt, ’n voormalige joernalis wat nou aan die Universiteit van die Vrystaat doseer, sê joernalistiek is ’n groot dryfveer in die boek.

“Maar waar ek my loopbaan in die joernalistiek geniet het, word die bedryf nie so positief deur die oë van my hoofkarakter gesien nie,” vertel hy.

Maar waar ek my loopbaan in die joernalistiek geniet het, word die bedryf nie so positief deur die oë van my hoofkarakter gesien nie

Hy het in sy tyd as verslaggewer by Eikestadnuus jare gelede ontdek dat wyn nie die enigste lewensaar van Stellenbosch is nie, maar ook stories. Daarom speel die roman in die Eikestad af.

“Stellenbosch is vol stories. Loop in jy dié straat af, ervaar jy iets. Draai jy in daardie een af, tref ’n nuwe idee jou. Ek het dit geleer toe ek destyds by Eikestadnuus gewerk het – daar is kreatiwiteit om elke hoek en draai.

“Maar dit is ook ’n dorp wat deur ontsettende veranderings gaan, en dit ontwrig op sekere vlakke die dorp se energie – iets wat ’n groot invloed op my hoofkarakter het.”

Leroux, wat verkies het om onder ’n skuilnaam te skryf, boei hom nog altyd, erken hy. Winterbach ook.

“Kort voor sy dood het John Kannemeyer my van die briewe vertel. Hy het sommige daarvan in sy biografie oor Leroux gebruik, maar nie alles nie. Sy praatjies oor die dokumente het my verbeelding geprikkel – veral omdat ek ook so van Leroux se 18-44 gehou het. Ek wou wéét wat het agter daardie boek – en daardie penneverhouding – gestaan,” sê hy.

Die boek is só geskryf dat die leser voel asof hy iewers tussen ’n droom en die werklikheid sweef. Van Aardt sê dit is omdat hy die boek in ’n baie moeilike tyd in sy lewe geskryf het.

Ek dink dis juis daai gevoel van sukkel wat so tussen die onwerklikheid en die werklikheid lê

“My pa en ouma het kort ná mekaar aan kanker gesterf, ’n paar maande later het die dokters ’n melanoom by my opgespoor en kort daarna is my beste vriend vermoor. My eie lewe het gevoel soos iets onwerkliks.

“Ek het gesukkel om al hierdie goed te verwerk. Ek dink dis juis daai gevoel van sukkel wat so tussen die onwerklikheid en die werklikheid lê. En dan, om met ’n karakter se bewussynstroom te werk, behoort die lesers outomaties op hul tone te hou, mits jy dit reg doen.”

Om nie té geheg te raak aan die karakters nie, was vir hom een van die grootste uitdagings in die skryfproses.

“Hulle is uitwerpsels van jou verbeelding – niks meer nie. Jy móét hulle uithou. Dan was die mees bevredigende deel om te sien hoe hierdie einste karakters jou as skrywer begin lei. Jy het soms nie ’n idee wat een gaan doen of sê nie, en om dan te ‘sien’ wat gebeur, is ’n verrassing.”

Hy verklap dat hy al besig is met sy volgende boek en het reeds daaraan begin skryf.

“Maar dit is heeltemal anders, selfs in ’n ander genre. En hopelik ligter!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.