Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Skrywers se eksperimente gryp lesers aan

Die 2018-benoemdes vir die kykNET-Rapportpryse, die grootste en rykste jaarlikse boekpryse in Afrikaans en wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe werk insluit, is pas bekend gemaak.

Die skrywer SJ Naudé bevind hom met sy tweede roman, Die derde spoel, op die kortlys vir twee pryse – die kykNET-Rapportprys vir romans sowel as die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk (romans, novelles en kortverhale).

Die prysgeld is vanjaar verhoog en beloop R250 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R125 000 vir die kykNET-Rapport-filmprys, en R125 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys.

“Die verhoogde prysgeld gee welverdiende erkenning aan skrywers in Afrikaans wat die pols van die tydvak meet, dit registreer, en die leser die woorde gee om eie ervarings daaraan te meet en te verstaan,” sê die sameroeper van die kykNET-Rapportpryse, Hettie Scholtz.

Inskrywings vir die kykNET-Rapportprys vir romans het getuig van waagmoed, beleë vakmanskap en besondere kreatiwiteit, sê Scholtz.

“Die genre van misdaadfiksie groei eksponensieel en is in menige geval met groot flair geskryf, soos Chris Karsten se Koms van die motman, Die laksman se dogter en Rooi haring, en ’n aansienlike mate van tekstuur.

“Twee eksperimente met genre het opgeval – Carina Stander se fantasiewêreld in Die bergengel, wat raakpunte met die kontemporêre werklikheid vertoon, en Francois Loots se roman Die diepblou see waarin die realistiese verhaal van die geniale Jan Hofmeyr met mitologiese elemente vermeng word.”

Die niefiksie-inskrywings bevat oorwegend die name van gevestigde skrywers met die uitsondering van Hemelbesem (Simon Witbooi), wat verras met die toevoeging van “ ’n heerlike proesel Afrikaaps” in sy debuut, God praat Afrikaans, sê Scholtz.

“Wat tendense betref, is dit opvallend dat reis sentraal staan met die fisieke reis wat dikwels die aanloop tot ’n reis na binne vorm. ’n Beduidende aantal skrywers loop die stroewe onderwerp van ouderdom en dood trompop. Elsa Joubert doen dit delikaat in Spertyd, Karel Schoeman ontstellend in Die slot van die dag, Kobus Anthonissen Christelik in Dansend met die lewe, Anton van Niekerk filosofies in Die dood en die sin van die lewe, en Cas Wepener na aanleiding van Karel Schoeman se kreatiewe werk in Die reis gaan inwaarts.”

Die besonder uiteenlopende aard van dié inskrywings het die keurders te staan gebring voor die uitdaging om ’n balans te vind tussen leesbaarheid en indringendheid, aktualiteit en durendheid, vakmanskap en kreatiewe vindingrykheid, sê Scholtz.

“Dit was geen maklike taak nie!”

Die inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede fiksiewerke was ewe wydlopend en uitdagend, sê die keurder Kerneels Breytenbach.

“Benewens die titels op die kortlys het die inskrywings ’n werk ingesluit wat Frans Marx al in 1993 by Wits se Winterforum belowe het: Spieëlbeeld. Aan die uitdagende kant was daar Naomi Meyer se indrukwekkende spanningsroman Web oor ’n egpaar met huweliksprobleme en wat dan voor die probleem van ’n kind wat wegraak, te staan kom.”

Die kortlyste vir 2018 is, in alfabetiese volgorde:

kykNET-Rapportprys: Fiksie (Romans)

V Die derde spoel, SJ Naudé (Umuzi)

V Die wêreld van Charlie Oeng, Etienne van Heerden (Tafelberg)

V Groen soos die hemel daarbo, Eben Venter (Tafelberg)

kykNET-Rapportprys: Niefiksie

V Spertyd, Elsa Joubert (Tafelberg)

V Geloof alleen, André Pretorius (Naledi)

V Op pad: ’n Reisjoernaal, Dana Snyman (Tafelberg)

k ykNET-Rapportprys: Film

V Blou is nie ’n kleur nie, Carin Krahtz (Tafelberg)

V Die laksman se dogter, Gerda Taljaard (Penguin)

V Kamikaze, Rudie van Rensburg (Queillerie)

Jan Rabie-Rapportprys: Romans, novelles en kortverhale

V As in die mond, Nicole Jaekel Strauss (Queillerie)

V Die derde spoel, SJ Naudé (Umuzi)

V Rooi haring, Schalk Schoombie (Human & Rousseau)

Die pryswenners word
Saterdagaand 22 September in Kaapstad aangekondig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.