Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Spoegwolf teen die muur

Ná die reusesukses van die eerste virtuele Hier staan ons-konsert op die vooraansig van die Voortrekkermonument, kan jy nou uitsien na nog drie konserte.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het op 16 Junie die eerste konsert in dié reeks aanlyn konserte met Jak de Priester as gasheer en Steve Hofmeyr as sy eerste gas aangebied om die dag te gedenk waarop die verskroeideaardebeleid ten tyde van die Anglo-Boereoorlog aangekondig is.

Spoegwolf kom nou op 18 Julie aan die beurt.

Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, sê dié groep is baie opgewonde om deel van hierdie projek te wees.

“Dit gaan ons eerste groot show in ’n baie lang tyd wees. Die Spoegwolf-masjien het nodig om weer te loop. Ons kan nie wag nie. Ons gaan ’n hele paar liedjies vir die heel eerste keer speel. Ons gaan die Voortrekkermonument afbreek en weer herbou,” het Du Toit tong in die kies oor hierdie eens-in-’n-leeftyd-konsert gesê.

Die FAK en De Priester het hande gevat om dié reeks aanlyn konserte aan te bied om die land se monumente deur kaartjieverkope te help beskerm. De Priester sal met elke konsert ’n ander gas verwelkom.

Die Voortrekkermonument sal elke keer as venue gebruik word vir die konserte en uiteindelik sal ’n skare self na die konserte kan kom kyk sodra die inperkingsregulasies opgehef is.

De Priester sê: “Covid-19 het ons gewys dat bakens, sakeondernemings en tydskrifte, wat ons hele lewe nog saam met ons was, skielik net nie meer daar is nie. Ons erfenisterreine en monumente staar presies dieselfde gevaar in die oë. Kan jy jouself voorstel: ’n Pretoria sonder ’n werkende Voortrekkermonument, die Paarl sonder die lieflike Taalmonument of Bloemfontein sonder die Vrouemonument?”

Die FAK het onlangs ten bate van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekend gestel om hul finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Volgens Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is monumente “inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat sy deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp.”

Die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die instellings op die FAK se prioriteitslys. Weens die verlies aan toerisme-inkomste weens die nasionale staat van inperking, is dié instelling een van die plekke wat moontlik sy deure kan sluit.

Joe Engels, eienaar van Xtreme Productions, wat hierdie konserte moontlik maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument self as skerm vir dié konserte dien.

“Konserte is oor die jare heen by al die verskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar nog nooit op dié monument self lewensgroot vertoon nie. Dié monument is 1 600 vierkante meter groot en 42 m hoog. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien.”

Engels verduidelik dat twee enorme projektors die beeld op die monument projekteer, terwyl sowat sewe kameras, waaronder ook hommeltuie, die konsert afneem en nog drie kameras die projeksiegedeelte doen.

De Priester gesels met sy gaste op ’n verhoog wat by die Vrouebeeld by die ingang van die Voortrekkermonument opgestel is. Hy en sy gaste sing ook van hul bekendste liedjies vir elke konsert.

Corlea Botha, Nianell en Monique Steyn sal op Vrouedag (Sondag 9 Augustus) hul buiging op De Priester se verhoog maak.

Hy beskryf hul stemme as “drie van die mooiste vrouestemme in Suid-Afrika”.

Jannie Moolman sal volgens De Priester op 13 September “na sy opera- en klassiekemusiek-wortels terugkeer” as sy vierde gas in die Hier staan ons-konsertreeks.

Kaartjies kos slegs R60 en met dié kaartjie kan jy en jou hele gesin of vriendekring saam na die konsert kyk vanuit die sitkamer of waar julle ook al ’n vleisie op die kole braai. Jy kan ook vir net R150 na al drie konserte kyk. . Kaartjies is te koop by www.ticketslive.co.za en www.plankton.mobi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.