Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Unieke Monteverdi in Endler

Die unieke aard van die onlangse rare “rooi maan”-maansverduistering is miskien ’n toepaslike beeld vir ’n unieke musikale gebeurtenis wat binnekort in die Endlersaal plaasvind.

Dié gebeurtenis handel oor ’n ewe rare geleentheid, in die vorm van Claudio Monteverdi (1567-1643) se evokatiewe toonsetting van die liturgiese Vespers (oorspronklik die aandgebede van die liturgiese Officium), ’n werk wat al vergelyk is as die grootste en aangrypendste van die aard voor die werk van Sebastian Bach.

Nadat dit sowat 25 jaar gelede die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer is, het die plaaslike koorleier Martin Berger, wat aan die voorpunt staan van koorprogramme aan die Universiteit Stellenbosch, die taak op hom geneem om die samewerking van plaaslike en internasionale kunstenaars te verkry ten einde hierdie majestueuse werk weer aan die lig te bring.

As gevolg van die besondere artistieke eise van die Vespers is die geleentheid met reg vergelykbaar met ’n rare natuurverskynsel.

Monteverdi se Vespers dateer uit 1610 en is in ’n groot mate omhul met misterie en ’n klinkende voorbeeld van rare ingewings wat die musiekgeskiedenis in ’n ander rigting sou stuur.

Die enigste ander werk van die aard is die gewilde Vespers van Rachmaninof, wat egter nouliks vergelyk kan word met dié van Monteverdi. Dit is naamlik ’n grootse en omvangryke werk van nagenoeg 90 minute vir orkes, kamerkoor en soliste en is gegrond op Bybelse tekste, waaronder twee Magnificat-toonsettings (lofsang van Maria) en vyf Psalms.

Die vreemde insluiting van twee items uit die sensuele erotiek van Salomo se Hoogliedere word verklaar uit die feit dat die Heilige Moeder dikwels beskou is as die “bruid” van die kerk.

Die sangers vir hierdie uitvoerings sluit in die soprane Caroline Nkwe en Lente Louw (albei Suid-Afrikaners), Ulrike Malotta (mezzo-sopraan – Duitsland), die tenore Georg Poplutz en Christian Rathgeber (Duitsland) en die bassinger Felix Rathgeber (ook van Duitsland).

Die geheeleffek sal verder akoesties ook ’n nuwe ervaring wees as gevolg van die gebruik van historiese Renaissance-instrumente met spesialisuitvoerders wat selde in ons dag en tyd gehoor word.

Die uitvoering van Monteverdi se Vespers is nog nooit tevore met historiese instrumente aangepak nie. Só sal Arno Parduch byvoorbeeld optree as houthoring (Duits Zink), ’n houtblaasinstrument, oorgetrek met leer.

Die klankresultaat is ’n aangename vermenging van hout- en koperblaas, soortgelyk aan die menslike stem.

Daarbenewens sal daar ook drie skuiftrompette wees (’n voorloper van die moderne tromboon).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.