Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Vergifnis en versoening in fliek verken

Byna twee dekades nadat die Waarheids-en-versoeningskommissie dit reggekry het om ’n einde te bring aan ’n katartiese tydperk van rekenskap in Suid-Afrika se gewelddadige geskiedenis van rassediskriminasie, neem die regisseur Roland Joffé se nuwe rolprent jou terug in tyd om jou met die verskriklike waarhede van apartheid, en die nalatenskap daarvan, te konfronteer.

The Forgiven is gegrond op Michael Ashton se verhoogstuk, The Archbishop and the Antichrist (hy het Joffé ook bygestaan met die skep van die draaiboek), en is ’n fiktiewe vertelling van aartsbiskop Desmond Tutu se pogings, as die hoof van die Waarheids-en-versoeningskommissie, om die gruweldade van apartheid te konfronteer in ’n poging om Suid-Afrika te genees en te verenig.

Oor die rede agter die fliek sê Joffé: “Hierdie is ’n onderwerp wat sosiaal en polities van aard is, maar ook baie persoonlik. As ons eerlik is, het ons almal al dinge gedoen waarvoor ons vergifnis soek en nog nie verwerk het nie. Ons is almal gevangenes van ons geskiedenis, of dit nou sosiaal, kultureel of familie-verwant is.”

Die drama volg aartsbiskop Desmond Tutu, wat uitstekend vertolk word deur Forest Whitaker, in sy morele en intellektuele stryd met die wrede moordenaar en lid van ’n voormalige apartheidsera-groep, Piet Blomfeld (Eric Bana), oor verlossing en vergifnis.

Wanneer Tutu ’n omvattende brief van die veroordeelde moordenaar ontvang, waarin hy om genade pleit, besluit hy om hom in sy tronksel te gaan besoek. Hier voer die twee mans ’n reeks gesprekke oor skuldgevoelens en vergifnis.

Die Oscar-bekroonde Whitaker lewer puik toneelspel wat Tutu se formidabele innerlike krag, waardigheid en deernis perfek weergee. Omdat hy reeds in die fliek Zulu (2013) die rol van ’n Suid-Afrikaner gespeel het, het hy agtergrond van Suid-Afrikaanse geskiedenis en kon hy dit gebruik vir sy rol as die aartsbiskop.

Hoewel hy een van Hollywood se mees gerespekteerde akteurs is, erken Whitaker die rol van Tutu was een van die grootste uitdagings van sy loopbaan tot dusver.

“Ek het presies geweet hoe hy lag, hoe sy sin vir humor is, hoe hy gevoel het en wat sy passie en geloof is, maar hy het hierdie grasieuse manier waarop hy na die lewe kyk.

“Dit was ’n groot uitdaging om al daardie dinge saam te voeg en die gees van hierdie man vas te vang.”

Bana is ook briljant in die rol van Piet Blomfeld en gebruik sy fisieke eienskappe en charisma om die gehate karakter as gevaarlik, maar ook baie menslik, uit te beeld.

“Hierdie is een van die mees intimiderende karakters wat ek nog ooit moes speel,” erken die Australiese akteur. “Vir my was die sleutel tot hierdie karakter om in die Suid-Afrikaanse geskiedenis rond te delf. Daar was so baie wat ek moes weet, om te verstaan waar Blomfeld se verwronge sin van geregtigheid vandaan kom.

“Dit was een van daardie rolle waar jy aan die diep kant moet inspring en om dit te kon doen moes ek eers die geskiedenis verstaan.”

Die fliek, vervaardig deur Craig Baumgarten en Zaheer Goodman-Bhyat, is in en rondom Kaapstad verfilm met tonele by een van die wêreld se gevaarlikste tronke, die Pollsmoor-gevangenis. Jeff Gum, Morné Visser en Thandi Makhubele is ook in die fliek te sien.

Die afgetrede aartsbiskop het sy toestemming vir die prent gegee.

“Hierdie intelligente, aangrypende, hartroerende en menslike fliek vang vas hoe dit gevoel het om saam met die onbaatsugtige lede van die Waarheids-en-versoeningskommissie te werk, wat daarna gestreef het om, ten spyte van omstandighede, die mense van Suid-Afrika te verenig,” vertel hy.

“Dit is ’n huldeblyk aan die merkwaardige en genesende krag van vergifnis en die ongelooflike deernis en dapperheid van diegene wat liefde en vergifnis gebied het as die teenmiddel vir haat en onmenslikheid.

“Dit is nie net ’n rolprent oor ’n sekere tyd en plek nie, maar ook ’n baken van hoop vir die mensdom in die algemeen.”

Aangrypende toneelspel, relevante sosiale kommentaar en uitstaande skryfwerk en regie, maak van The Forgiven ’n treffende fliek en ware getuigskrif van die krag van vergifnis.


V Dit sal op 5 Oktober in rolprentteaters te sien wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.