Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eikestadnuus
Uitgestorwe spesie ‘herleef’ ná 200 jaar
spesie
Die delikate blom en garingagtige blomstele van Psoralea cataracta, ’n tipe fonteinbos wat slegs naby bergstrome in die Tulbagh-streek van die Wes-Kaap voorkom en in 1804 laas waargeneem is.

Een van die eerste bekende plantspesies wat in die 1800s weens bosbou- en landboubedrywighede in die Wes-Kaap uitgesterf het, is herontdek.

Brian du Preez (26), ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit Kaapstad, het Psoralea cataractais ontdek toe hy onlangs per ongeluk op ’n groep van die plante langs ’n voetpaadjie naby ’n rivier op ’n plaas in Tulbagh-distrik afgekom het. 

Tot op hede was P. cataracta slegs bekend as gevolg van ’n enkele voorbeeld wat in 1804 by die Tulbagh-waterval gevind is. Die plant is in 2008, ná vele vrugtelose soektogte, amptelik in die rooidatalys van Suid-Afrikaanse plante as “uitgestorwe” verklaar.

Du Preez het onmiddellik geweet watter vonds dit was, omdat hy as vrywilliger reeds lid was van vorige soekpogings in die omgewing van Tulbagh-waterval saam met Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (Crew) ’n organisasie wat hom beywer vir die bewaring van skaars en bedreigde veldblomme. 

“Toe ek daardie delikate garingagtige blomstele sien, het ek gewéét dis Psoralea cataracta,” vertel Du Preez.Prof.

Charles Stirton van die Verenigde Koningkryk (VK), Du Preez se medepromotor en ’n internasionaal erkende spesialis van die genus Psoralea, het sedertdien bevestig dat hy inderdaad die lang verlore spesie wat in 1804 laas gesien is, herontdek het. “Vir my is die uitstaande kenmerke die merkwaardige steunblaartjies, baie lang draadvormige steeltjies, en die unieke blomkleur. Dit is ’n baie belangrike vonds aangesien dit wys hoe die Kaap se bergagtige gebiede nog steeds relatief min nagevors is.

brian
Nadat Psoralea cataracta in 1804 laas gesien is, is dit deur Brian du Preez, ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit Kaapstad herontdek.

"Gegewe die feit dat baie van die Kaapse flora slegs ná brande opkom en ’n kort leeftyd het, én dat hierdie brande soms ongereeld voorkom, is die kans om op die regte tyd in die regte omgewing te wees, redelik skraal. Welgedaan met ’n wonderlike vonds, Brian,” het Stirton per e-pos uit die VK geskryf.

Ismail Ebrahim, projekbestuurder van Crew, beaam dat dit ’n uitsonderlike vonds is: “Dit is werklik baie ongewoon om ’n spesie te vind wat al vir so lank as uitgesterf beskou is, iets wat vir donkiejare nie gesien is nie. Met Kaapse flora is dit self moeiliker, aangesien die meeste spesies beperk is tot ’n baie klein gebied en jy dit maklik kan mis. Dit bewys net weer die waarde van regte outydse veldekskursie-plantkunde,” voeg hy by. 

In 2016 het Du Preez as honneurstudent in plantkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), twee spesies van die ertjiefamilie, Polhillia ignota en Aspalathus cordicarpa, herontdek wat as uitgesterf beskou is en laas onderskeidelik in 1928 en die 1950s gesien is. Hierna het hy ook in 2017 sy MSc-graad aan die US behaal met navorsing oor Polhillia

Vanjaar het hy reeds nuwe spesies van Aspalathus ingesamel wat op sandduine op die walle van die Rietrivier in die Swartruggensberge, noord van Ceres, groei. Hy is tans haastig om die spesie te beskryf, aangesien hierdie gebied van die Rietrivier geoormerk is vir boorduitbreiding. “Ons kan slegs beskerm wat ons reeds beskryf het. Slegs spesies wat formeel beskryf is kan rooidatalysstatus verkry, wat dit dan wetlik beskerm teen ontwikkeling, afhangend van die bewaringstatus,” waarsku hy. 

Daarom het Du Preez besluit om vir sy PhD-studies ’n hersiening van die genus Indigofera in die groter Kaapse blommeryk, aan te pak. Hierdie diverse genus bestaan uit meer as 100 spesies in die streek, met ten minste 30 nuwe spesies wat wag om formeel beskryf te word. 

Du Preez, ’n boorling van George, het die afgelope ses maande rduisende kilometers in sy Nissan-bakkie afgelê. Die gebied wat hy gedek het strek vanaf die Richtersveld, reg deur tot by die Oos-Kaap en alles tussenin. In hierdie gebied het hy alreeds oor die 60 Indigofera-spesies versamel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.