Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Alles in brand verloor

’n Huisbrand het Donderdag 28 Junie verwoesting gesaai en ’n man sonder heenkome gelaat.

Die huis van Desmond Sampson (28) in Chelseastraat, Hawston, het net voor 18:00 aan die brand geslaan.

Sampson, wat aan geheueverlies ly weens aanranding, bly tans by sy niggie Ellistine Job.

Job sê sy het pas van die werk af huis toe gekom toe sy haar oupa en neef buite die huis sien sit het. “My oupa, wat ook op die erf in ’n wendyhuis woon, het saam met Desmond by ’n vuur gesit,” vertel Job. “Twee seuns wat in die straat af geloop het, het vir ons geskree daar kom vlamme by die vensters aan die agterkant van die huis uit.”

Sampson het onmiddellik die brandende huis ingestorm. “Die vlamme het my slaapkamer verswelg en ek is toe weer uit om ’n tuinslang te soek,” verduidelik hy. “Ek kon nêrens een kry nie en het ’n emmer beetgekry. Dit was ’n klein emmertjie. As dit ’n groter emmer was, sou ek meer van my besittings kon red.”

Job sê hulle het die brandweer ontbied, maar toe die brandweer opdaag, was die brand klaar geblus. Die twee seuns het hulle gehelp om ’n gat in die dak te kap en die gassilinder daardeur uit te kry. “Ons is dankbaar dat die gassilinder nie ontplof het nie.”

Job het glo ’n brandweerman gevra wat die oorsaak van die brand kon wees. “Hy het gesê dit kan moontlik ’n kortsluiting in die elektriese paneel wees.”

Al Sampson se besittings is in die brand vernietig behalwe een antieke meubelstuk: ’n kas waarin sy borde, lepels en vurke gebêre was.

“Alles om die kas is in puin gelê, selfs die kleiner kassie wat bo op hierdie een gestaan het, het uitgebrand, maar die antieke kassie het nie eens ’n rookmerk nie,” vertel Sampson.

Ná die brand het Sampson, wat weens sy toestand maandeliks ’n ongeskiktheidstoelaag ontvang, slegs die klere oor wat hy aangehad het.

’n Woordvoerder van Overstrand Munisipalitiet bevestig dat die struktuur vernietig is en dat niemand beserings tydens die brand opgedoen het nie.

Enigeen wat iets wil skenk, kan Ellistine Job by 079 349 6063 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.