Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Begroting ’20: Silwer rand

In ’n milieu waar die spreekwoor­delike “man op die straat” heelwat negatiewe nuus op ’n daaglikse basis moet absorbeer, het Tito Mboweni, die minister van finansies, se begrotingsrede ’n silwer randjie om onweerswolke laat skyn.

Suid-Afrikaners loop deur onder werkloosheid, Eskom se elektrisiteitskrisis, skokkende onthullings deur die Zondo-kommissie, swak ekonomiese groei, wisselvallige markte en ’n verswakkende rand.

In aanloop tot die begrotingsrede het die meeste kommentators bespiegel oor ’n verskeidenheid belastingverhogings, byvoorbeeld ’n hoër BTW-koers, ’n ekstra welvaartsbelasting of hoër kapitaalwinsbelasting. Mboweni het egter met vernuftige voetwerk verras deur niks hiervan in sy begroting in te sluit nie. Inteendeel, inkomste­belasting sal vir almal effens laer wees as in die vorige belastingjaar (as jou inkomste dieselfde bly). Verder is die bydraes tot belastingvrye spaarplanne se drempel verhoog van R33 000 tot R36 000 per jaar en is die vrystelling op hereregte verhoog na R1 miljoen. Dit alles behoort ’n bietjie verligting vir die individu te bring.

Maar Suid-Afrika staar in 2020-’21 steeds ’n begrotingstekort van R370,5 miljard, ofte wel 6,8% van BBP (bruto binnelandse produk), in die gesig.

Die groot probleem wat die huidige fiskale posisie meebring, is skuldvlak­ke wat moet aanhou styg om die begrotingstekort te finansier. Die verwagting is dat staatskuld 65,6% van BBP in 2020-’21 gaan beloop.

Om rente op meer en meer skuld te betaal, is gewis nie ’n doeltreffende manier vir die staat om sy skaars hulpbronne aan te wend nie.

Alhoewel verwag word dat besteding deur die staat teen 5,1% per jaar oor die volgende drie jaar sal styg, is dit hoofsaaklik omdat meer rente betaal moet word. Besteding op projekte wat groei doeltreffend kan stimuleer en die ekonomie op ’n beter grondslag kan plaas, neem in reële (ná-inflasie-terme) af.

Eskom en ander semi-staatsinstel­lings soos die SAL is steeds ’n groot struikelblok vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. R60 miljard is vir die regruk van hierdie instellings geoormerk. ’n Allemintige R230 miljard gaan oor die volgende 10 jaar bestee word om die elektrisiteitsektor te herstruktureer. Mboweni het ’n hele paar keer in die begrotingsrede ver­wys na die kritieke rol van stabiele elektrisiteitsvoorsiening vir ’n gesonde ekonomie. Staatsuitgawes moes dus geprioritiseer word om vir hierdie doelwit te mik.

Hoewel Mboweni reeds in die vorige begrotingsrede na salarisse in die openbare sektor verwys het, word ’n daadwerklike poging vanjaar aange­wend om dit in te kort. In hierdie begroting word beplan om R160 miljard ten opsigte van salarisse in die staatsdiens te spaar. Dit sal uiter­aard harde onderhandeling met die vakbonde kos om hierdie besparing ’n werklikheid te maak, maar dit is kritiek dat dit suksesvol gedoen word.

Mboweni het ’n goeie begroting in baie moeilike omstandighede ter tafel gelê. Hy besef dat fiskale volhoubaar­heid nie onderhandelbaar is nie. Met verwysing na die aalwyn, wat nou blyk ’n gereelde besoeker in die parle­ment te wees, het hy as volg kommen­taar gelewer: “Our Aloe Ferox can withstand the long dry season because it is unsentimental. It sheds dead weight, in order to direct increasingly scarce resources to what is young and vital.” Voorwaar ’n raak vergelyking in die huidige Suid-Afrikaanse konteks.

. NOTA: Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maat­skappye in die PSG Konsult-groep waarborg nie die geskiktheid of poten­siële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig.

Jaanre Muller is ’n portefeuljebestuurder by PSG-Hermanus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.