Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beste pres. Zuma, dalk is die tyd ryp vir ’n bietjie stres

Beste pres. Zuma.

Geluk met jou 75ste verlede week.

Het ek my verbeel, of was dit ’n effens gedempte partytjie daar in die tent by Kliptown? Net twee van die Groot Ses kon dit haal, sien ek. Jessie Duarte en…jy. Cyril en Gwede-hulle is seker nie genooi nie. (Ai, ou Jessie…so lojaal, maar is daar geen begin aan haar talente nie?)

Jy het effens verlore gelyk in daardie enorme wit stoel waarin jy gesit het. Ek het laas so ’n groot stoel op ’n sierwa by die Rio-karnaval gesien.

Terwyl iemand agter die podium jou lof besing het, het jy na iets op jou selfoon geluister. Dalk die nuus dat die hof beslis het die Valke se baas, genl. Berning Ntlemeza, sy kantoor moet ontruim? Slegte nuus. Jy het immers hom met die hand uitgesoek. Nog ’n domino wat daar in jou buurt val. Iets om oor bekommerd te wees.

Maar toe sê jy in jou toespraak jy voel glad nie stres nie. Dis net wit mense wat stres.

Ek het nogal hieroor gewonder toe ek die volgende dag hier op Hermanus werk toe ry. Elke oggend staan daar ’n stuk of tien mense by ’n stopstraat naby my huis. Hulle soek werk. Enige werk. As jy oogkontak met enigeen van hulle maak, sit hulle hul hande bymekaar om “groot assseblief” te beduie.

Ek kyk dan eerder reg voor my, want ek stres oor hierdie mense. En ek vermoed hulle stres ook, al is hulle swart. Hulle stres omdat hulle vanaand nie kos op die tafel vir hul kinders sal kan sit nie. Hulle stres omdat hulle nou al vir drie, vier dae daar staan en niemand gee vir hulle los werk nie. Hulle stres want hulle weet nie wat om te doen nie.

Laat ek dus dan maar reguit vir u sê, pres. Zuma: ek soek ’n president wat bereid is om te stres.

Ek soek iemand wat na ons land se begroting sal kyk en begin stres omdat die staat se salarisrekening binne ’n paar jaar ons totale belastinginkomste gaan opvreet. Ek soek iemand wat bereid is om te stres oor al die semi-staatsinstelling wat basies bankrot is – die SAL, die SAUK, Prasa, Sanral, noem maar op.

Ek soek ’n president wat in die middel van die nag sal wakker skrik en stres oor ons onderwysstelsel – een van die duurstes maar swakstes op die aardbol – wat deur die vakbond Sadou gyselaar gehou word.

Is dit te veel gevra dat jy darem ’n bietjie sal stres oor die diensleweringsbetogings wat feitlik elke dag iewers in Suid-Afrika oorkook? Ek wonder dikwels, tel jy soms die telefoon op en probeer uitvind presies waaroor die mense so kwaad is?

Dit lyk nie of jy stres oor ons rommelstatus nie. Jou vriend Vlad daar in Moskou en daai gawe man van China gaan ons mos hiermee help.

Maar, stres jy dalk oor Schabir Shaik se gesondheid? Hy is mos in 2009 uit die tronk ontslaan omdat hy “in die finale fase van ’n terminale siekte” is? Nie? Dan het jy hom seker darem al gebel om hom geluk te wens met sy vasbyt. Na agt jaar klou hy steeds aan die lewe.

Stres jy jou glad nie oor die 783 korrupsieklagtes wat oor jou kop hang nie? Ook nie oor daardie 14, of was dit nou 15, soldate wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek doodgeskiet is nadat jy hulle soontoe gestuur het sonder om dit in die parlement te opper. Stres jy oor hul naasbestaandes? Oor die kinders wat sonder ’n pa moet grootword? Bel jy darem so nou en dan een van die weduwees om te hoor hoe dit gaan?

Dalk is dit ’n klein dingetjie, mnr. Zuma, maar ek dink jy moet jou dalk begin stres oor daardie tien ouens by die stopstraat op Hermanus. Want een ding moet jy weet: hulle gaan nie in die volgende verkiesing vir jou stem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.