Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Biografie beantwoord vrae oor Jonker

“Die feite maak die mens en die mens maak die kuns,” is Anna Jonker se siening.

“Ingrid was ’n liriese digter,” sê Anna. “Jy kan dit sien, dit is vasgelê in haar kinderjare, brandarm jare.”

Ingrid het die vermoë gehad om met kinderoë na dinge te kyk. Sy kon jou vertel hoe sy in die veld luister na toktokkies, kon sien hoe die maan gaan slaap met sy boepens in die lug . . .

“Met daardie groot bruin oë het sy ’n opmerksaamheid en ’n oordeel gehad wat alles ingeneem het. Sy moes haar eie geluk soek, uit haar kinderjare.”

Uiteindelik begin Anna praat oor Ingrid die mens, die klein dogtertjie in die natuur, in armoedige omstandig­hede, maar gekoester deur haar ouma. Haar ma was ’n senulyer en, soos Ingrid dit later stel, haar vader was nie destyds saam met die klein gesin nie.

Op die vraag of sy saamstem dat haar pa ’n baie moeilike man was, antwoord Anna deur so ’n grusame insident aan te haal dat ’n mens wonder waarom sy dit in herinnering wil roep. Die walgtoneel speel af in die jaar net voordat Beatrice hom verlaat het.

“Toe my pa by Die Burger gewerk het,” vertel Anna, “was daar ’n motorongeluk. Die man se skedel was gebreek, sy brein het op die sypaadjie gelê. En my pa het daarin gaan trap. Moenie vir my vra of dit waar is nie, dis ’n storie wat ek gehoor het.”

Anna se verklaring vir haar pa se optrede is: “Wreedheid. My mother had a court order issued – she left him because of that. Maar dit het hy eintlik net gebruik as jy vir hom bang was, as hy in jou oë sien jy is bang, dan skop hy jou.”

Ingrid in die grootmenswêreld
Aan die begin van 1952 betree Ingrid die grootmenswêreld, vir haar ’n veeleisende aanpassing. Haar vroeë kinderjare is te diep gewortel in vryheid, die oop natuur, onbeperk deur tyd of roetine, ’n wêreld van ontdekking, verbeelding en versies skryf . . .

Op 1 Desember word Ingrid se droom van ’n eie baba bewaarheid. In die Booth-gedenkhospitaal in Vredehoek skenk sy die lewe aan ’n dogtertjie, Simone. Dit is ’n seldsame geboorte, sonder pyn.

Die trein wat die middag van 24 Januarie 1960 op die Kaapstadse stasie aankom, sug sy stoom uit en kom ruk-ruk tot stilstand. Passasiers in die gange trap onvas rond, kry hul balans, buk om by vensters uit te kyk.

Die 26-jarige Ingrid is angstig, sy wil sien of haar ontstoke pa op die perron wag. Met Simone, twee jaar, aan die hand en ’n groot sak oor elke skouer, sukkel sy by die hoë trappe van die trein af. Haar oë brand, sy probeer hulle teen haar boarm vryf. Dit was ’n lang nag, die duisend myl van Johannesburg tot terug in die Kaap.

Jack Cope het deernis vir die moed waarmee sy haar nuwe bestaan wil aanpak, maar sy is geensins aangelê vir praktiese organisasie nie. Volgens Jack het sy “the heart of a bird, the strength and resolution of a butterfly . . .”

Dat Jack ’n sleutelrol in Ingrid se welstand speel, lei geen twyfel nie. Dit is opmerklik dat sy ná die eerste skokterapie besondere deernis vir hom het. Haar oorweldigende liefde is een van die uitwerkings van die terapie wat Jack bybly.

André Brink beskryf later hoe sy daar ingestap het: intens, gespanne, hare deurmekaar, met ’n sigaret in haar hand. Brink onthou dat Ingrid ’n wit manshemp en ’n nousluitende, groen langbroek aangehad het, dat sy kaalvoet was. Dit was vir hulle albei liefde met die eerste oogopslag.

In ’n onderhoud vir ’n dokumentêre program voeg hy by: “Daar was onmiddellik elektrisiteit in die lug.”

Ten spyte van die beëindiging van hul verhouding en hul skrapse korrespondensie bly André steeds ’n byna oorheersende teenwoordigheid in Ingrid se bestaan. Hy stuur ’n geel nagrok vir haar verjaardag, tesame met ’n tjek waarmee sy klere koop. Hy stuur ook blomme.

Wanneer Ingrid skryf om hom te bedank, vertel sy van haar mooi woonstel en hoe sy daar leef. Haar vriendin Bonnie Davidtsz was by toe Ingrid die laaste aand probeer het om by haar gewese minnaar, Jack Cope, geld te leen. Sy wou ’n treinkaartjie koop, in Johannesburg saam met Bonnie gaan woon, ’n nuwe begin maak. Sy wou wegkom van almal in die Kaap. Maar Jack weier; hy het haar naderhand siedend kwaad, afgetakel en hartseer. Toe is hy weg. Wat later daardie nag gebeur het en wat in die vroeë ure van die volgende oggend Ingrid se dood veroorsaak het, word in dié biografie, meer as 50 jaar later, weer in oënskou geneem in ’n poging om haar lewensverhaal volledig op te teken.

Ingrid leef voort in haar poësie, maar haar nagedagtenis verdien antwoorde op die vrae oor haar lewe en dood wat tot nou toe onbeantwoord gebly het.

- Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.