Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bote ‘stropers s’n’

Daar word vermoed dat twee bote wat Maandag naby Buffeljagsbaai omgeslaan het, moontlik aan stropers wat van die polisie wou vlug behoort het.

Volgens ’n bron het ower­hede Maandag ’n blitsoperasie teen perlemoenstropery naby Blouwaterbaai, Pearly Beach uitgevoer. Dié bron beweer die rubberbote wat later omge­slaan het naby Buffeljagsbaai is vaartuie wat dié optrede en inhegtenisneming wou ontduik.

“Daar is beslag gelê op drie rubberbote sowel as ongeveer 30 duiksilinders, duikpakke en 2 280 eenhede perlemoen. Drie verdagtes is ook vir die onwettige besit van perlemoen en duik in ’n geslote gebied in hegtenis geneem,” het die bron gesê. “Een van die bote wat weggejaag het, het sonder petrol gaan staan. Dié boot en nog ’n ander wat dit te hulp gesnel het, is deur ’n brander omgedop.”

Mense op die boot het hulp ontbied en twee vaartuie van Hermanus-NSRI sowel as voertuie van Agulhas-NSRI, die polisie, Overberg-rampbestuur, Overberg-brand-en-redding en die Wes-Kaapse gesondheids­departement het ’n reddings­operasie van stapel gestuur.

Deon Langenhoven, stasiebe­velvoerder van Hermanus-NSRI, het bevestig dat hulle omstreeks 19:33 deur die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) geaktiveer is.

“NSRI ASR (Airborne Sea Rescue), die SA Lugmag 22 Squadron en die EMS/AMS Skymed-helikopter is op bystand geplaas,” het hy bygevoeg. “Die Maritieme Redding Köordinasiesentrum (MRCC), Transnet nasionale hawe owerheid, Telkom Maritieme radiodiens en EMS-metrobeheer het die operasie gekoördineer.”

’n Uitgebreide soektog na die twee vaartuie, wat vermoedelik naby Buffeljagsbaai omgeslaan het, is begin te midde van hoë deinings, sterk wind en reën wat sig belemmer het. Twee bote het in die nag en vroeë oggendure naby Franskraal op die rotse uitgespoel.

“Ses mans is bygestaan. Hulle was nie beseer nie,” aldus Langenhoven. “Vyf ander het by Buffeljagsbaai aan wal geswem.

“NSRI Hermanus en MRCC, bygestaan deur die polisie, het voortgegaan om die situasie te monitor en daar is bevestig dat al die mans veilig en sonder beserings aan wal gekom het,” het Langenhoven gesê.

Gansbaai-polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

. Intussen is die soektog na ’n skipper wat verlede Donderdag naby Quion Point tussen Gansbaai en Agulhas deur ’n reusebrander van sy seiljag afgeslaan is, gestaak. Die skipper, Melvin Rautenbach, en sy bemanning het deelgeneem aan die Mosselbaai-seiljagwedvaart toe hul vaartuig, Silver Girl, 27 September deur die golf getref is. Ten spyte van ’n uitgebreide soektog in moeilike seetoestande is geen teken van Rautenbach gevind nie. Die soektog na die vermiste skipper is Vrydagoggend afgelas en NSRI-Hermanus het die beskadigde vaartuig na Hermanus se hawe gesleep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.