Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bouers kla oor bedingingsraad

Die verteenwoordigers van sowat 300 ongelukkige bouers en kontrakteurs van Hermanus het in die Kaap vergader om hul griewe oor die Nywerheidsbedingingsraad vir die boubedryf (BIBC) te bespreek.

Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse parlement, was die voorsitter van die vergadering en het aan die bouers verduidelik dat die departement van arbeid bouers verplig om aan die BIBC te behoort.

Mnqasela sê egter dat ’n nuwe beleid oor die BIBC binnekort gepubliseer gaan word, wat tot ’n nuwe dispensasie gaan lei of die huidige voorwaardes wat bouers verplig om aan die BIBC te behoort, op te hef.

Spertyd vir kommentaar rakende die nuwe beleid is Donderdag 31 Oktober.

“Die bouers en kontrakteurs is sterk teen die huidige stand van sake gekant,” sê Mnqasela.

“Hulle het ook aangedui dat die BIBC dit vir hulle baie moeilik maak om werk te skep en hul ondernemings volhoubaar te maak. Hulle sê die werkers ondersteun ook die bouers in hul griewe oor die BIBC.”

Sowat 300 bouers en kontrakteurs het in Julie vanjaar vreedsaam voor die BIBC se kantoor in Mimosastraat betoog om bewustheid van hul griewe te skep.

Hilton Pedro van Whale Coast Contractors, wat ook dié dag betoog het, sê nog ’n vergadering is vir Maandag 28 Oktober gereel.

“Ek is al 50 jaar in Hermanus en het my pa as ’n klein seuntjie aan die Windsor Hotel help bou. Daar was werk vir almal en die kontrakteurs en bouers het in die plaaslike ekonomie terug­geploeg.

“Dit is egter nie meer die geval nie, omdat jy nou die BIBC se fooie in jou kwotasie moet inwerk. Dan sê die kliënt hulle kan nie jou dienste bekostig nie, want hulle kan nie die ekstra R200 000 of R300 000 vir die BIBC bekostig nie,” sê Pedro.

Volgens Mnqasela is ooreengekom dat ’n vergadering Maandag 28 Oktober 12:00 by sy kantoor in Kaapstad gehou sal word. “Die unies, die BIBC, die departement van arbeid en die bouers en kontrakteurs se verteenwoordigers sal by dié vergadering wees om die saak verder te bespreek.

“Ons het ooreengestem dat ons ’n omgewing sal help skep wat groei in die boubedryf sal stimuleer, beleggings sal lok en werk sal skep.

“Dit is uiters belangrik dat ons oplossings kry om werksgeleenthede te red en die volhoubaarheid van die boubedryf te verseker,” het Mnqasela gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.