Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bouwerk aan die ‘brand’

Planne vir die Overstrand se eerste volwaardige brandweerstasie is Dinsdag bekendgemaak.

Die eerste fase van die projek behels die aanbou van ’n loods waar drie van Overstrand-brand en reddingsdienste se brandweerwaens gehou sal word. Overstrand se uitvoerende burge­meester, Dudley Coetzee, het gesê dat altesaam R2,48 miljoen in die 2019-’20-boekjaar vir fase een van dié projek begroot is.

“Dit is ’n groot belegging vir die veiligheid van die Overstrand-gemeenskap,” het die assistentbrand­weerhoof, Angelo Aplon, gesê.

Coetzee het verder gesê: “Tot op hede het Hermanus nie ’n volwaardige brandweerstasie gehad nie en die brandweerdiens se voertuie moes by die verkeersdepartement gehuisves word.

“Dít was meestal die oorsaak vir vertra­gings wanneer daar op ’n brand gerea­geer moes word. Hierdie probleem sal egter binnekort iets van die verlede wees. Ek sien daarna uit om die nuwe brandweerstasie se opening te vier.”

Die raadslid, Arnie Africa, burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste, het in sy toespraak gesê dié toevoeging bring “nuwe hoop” vir die inwoners van die Overstrand.

Lester Smith, hoof van Overstrand- brand- en reddingsdienste, het hierdie sentiment beaam en bygevoeg dat die brandweer die plek is wat in tye van nood hoop bied.

“Almal weet wat 11 Januarie gebeur het,” het hy gesê met verwysing na die verwoestende brande wat dele van die Overstrand in puin gelê het. “Die brandweerstasie was waar almal vergader het en hoop gebied het.”

Hy het ook uitgewys dat Overstrand-brand- en reddingsdienste tien jaar van professionele brandweerdienste in die gebied vier.

“Dit is dus ’n gepaste geskenk om dié mylpaal te vier,” het hy bygevoeg.

Daar was groot opwinding toe daar aangekondig is dat werk aan die fondasies van die nuwe gebou na verwagting binne die volgende week gaan begin.

As deel van die eerste fase van die bouprojek sal die loods sowel as kantoor op ’n oop stuk grond voor die huidige struktuur gebou word.

Dié kantoor sal nie net spog met ’n hulptoonbank wat 24 uur lank beman sal word nie, maar ook die nuutste tegnologie soos ’n wolkgesteunde versendingstelsel (cloud aided dispatch system) wat alle noodoproepe en die ontplooiing van die nodige beskermings­dienste sal koördineer. ’n Spesiale afdeling waar die munisipaliteit se beplande uitgebreide CCTV-netwerk gemonitor sal word, sal ook hier gehuisves word.

Neville Michaels, direkteur: beskermingsdienste, het ook aange­kondig dat die Overstrand-brandweer­diens binnekort ’n splinternuwe brandweerwa sal ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.