Die manne van die Overstrand-motorklub is besig om ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak.
Dié klub het Saterdag tot die redding gekom van ongeveer agt gesinne van Tsepe Tsepe in Zwelihle wat Sondag 13 Oktober al hul besittings in ’n brand verloor het.
Gideon Links, voorsitter van die klub, sê lede het onlangs besluit om hul kaste skoon te maak en oortollige klere vir behoeftige mense te skenk.
“Craig Niemand het ons vertel van omtrent agt families van Zwelihle wat alles in die brand verloor het en ons het besluit om die klere aan hulle te skenk,” het Links vertel.
“Ek het ook klere by die personeel van Gansbaai Academia gekry wat van dié projek gehoor het.”
Die motorklub se lede het Saterdag vroeg van die brandweerstasie in Hermanus in ’n konvooi na Tsepe Tsepe in Zwelihle gery waar hulle met ’n gemeenskapsleier van dié gebied ontmoet het om die byna 20 sakke skenkings te oorhandig.
Links sê projekte soos hierdie lê die klublede na aan die hart. “Ek het die klub gestig met die visie om ’n verskil in die gemeenskappe van die Overstrand te maak wat strek van Die Damme tot Rooiels.”
Die groep het onlangs geld ingesamel om ’n tweedehandse hospitaalbed vir ’n siek seun van Stanford te koop (“Karmanne laat harte warm klop”, Hermanus Times, 10 Oktober 2019).
Die groep help ook ’n ander organisasie wat Saterdag ’n Halloween-partytjie vir kinders in Gansbaai reël.
“Volgende wil ons geld en skenkings vir ’n Kerspartytjie vir minderbevoorregte kinders insamel en daarna beoog ons om genoeg skoolklere en skryfbehoeftes in te samel om minstens tien kinders in Januarie te help,” sê Links.
Enigeen wat skoolklere, skryfbehoeftes, lekkergoed en speelgoed (selfs tweedehands) vir dié doel wil skenk, kan Links by 062 507 7292 (slegs Whatsapp) of 061 993 6144 bel.