Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dana Snyman glo aan skryf en droom

Hermanus Times het ’n paar koppies koffie saam met die bekende skrywer en oudjoernalis Dana Snyman gaan drink.

Snyman het toevallig in die joernalistiek beland nadat hy destyds eers ’n veiligheidswag was en toe in ’n boekwinkel gewerk het.

“Ek was altyd lief vir koerant lees en stories oor mense. Ek was en is steeds ’n doodnormale mens – ’n normale skrywer – en ek was jaloers op skrywers soos André P. Brink wat op die ouderdom van tien al begin het om Shakespeare te lees,” sê hy terwyl hy sukkel om sy tweede sakkie suiker vir sy koppie cappuccino oop te skeur.

Snyman het op 27 besluit dat hy ’n joernalis wil word en het by die destydse Pretoria Technikon gaan studeer.

’n Klein frons vorm op sy gesig soos hy verduidelik dat joernalistiek eintlik ’n goddelike leiding vir hom was – dit was iets wat in sy lewe moes gebeur het.

“Ek het as misdaadverslaggewer by die Beeld aangesluit en daai jare in die vroeë negentigs was dit ’n ander tyd. Die bedryf was destyds heel anders – sonder selfone en Google. Ek was onder die indruk dat joernaliste hierdie verfynde karakters was, maar daai ou geslag was rof en het nie stront gevat nie. Maar al was hulle so rof, was daardie geslag goeie, belese mense.”

Hy vertel dat vuisgevegte op kantoor by koerante soos Beeld en Rapport niks ongewoon was nie.

“My heel eerste aand as joernalis loop ek in by die kantoor waar Rapport se joernaliste gewerk het. Die kantoor was glad nie mooi nie en almal het gesit en rook – die vroue ook. Daar het so ’n ou koffiemasjien in die hoek gestaan met tien bekers wat nie almal dieselfde lyk nie en twee van hulle se ore was af.”

Hy onthou hoe hy daar gesit het om sy eerste berig te skryf – so ’n lang stuk oor die destydse kapelaan van die polisie, Mike van der Merwe.

“Terwyl ek daar gesit en tik het, het ’n jong student verskyn en my gevra wat ek gaan drink, want sy was op pad na Johnny se bar toe. Dit was waar ek brandewyn begin drink het,” bieg Snyman.

Hy onthou hoe hy die hele land vol getoer het saam die bekende Huisgenoot-fotograaf Nardus Nel. Nel, wat ’n paar jaar gelede oorlede is, het ’n groot impak op Snyman se lewe gemaak.

“Nardus het my geleer om te kyk en hy het my geleer dat elke mens se goed en besittings hom of haar definieer. Hy was werklik ’n merkwaardige mens.”

Hy onthou hoe hy en Nel destyds saam mense gaan besoek het vir stories vir Huisgenoot.

“Nel moes die mense afneem nadat ek my onderhoud met hulle gevoer het. Dan het hy vir byvoorbeeld die tannie vertel dat sy ’n ander rok moet gaan aantrek (want die een wat sy aan het se kleur is te donker) en sodra sy en die oom weg is om ander klere te gaan aantrek, het hy (Nel) dadelik gehardloop en die mense se yskaste en kaste oopgemaak om te sien hoe hul besittings lyk. Dit was nie om snaaks te wees nie, maar hy het net die belangstelling gehad om te kyk hoe mense lewe. Hy het my geleer om te kyk hoe goed lyk en om baie konkreet te skryf,” onthou Snyman.

Hy onthou ook joernaliste moes inligting vir stories opspoor deur al hul kontakte te bel en dan die polisie en ambulans elke uur te bel om uit te vind of iets gebeur het.

“Ek onthou ek het kolonel Suiker Brits gereeld vir misdaadnuus gebel. My heel eerste sin was altyd ‘Kolonel, het jy enige nuus vir my?’ Dan sou die man sug en sê ‘Nee, hier gaan f****l aan’.”

Snyman is nie net ’n skrywer van boeke en stories nie, maar het ook die bekende eenmanstuk Donkie vir Frank Opperman geskryf. Dit was een van die bekende vertonings by vanjaar se Hermanus Times-Kalfiefees wat honderde feesgangers gelok het.

Sy wenk aan jong aspirantskrywers is om net te begin skryf as jy ’n boek wil skryf. “Ek weet almal is altyd bang vir boeke skryf, maar vergeet van die bang wees en sit en skryf aan jou boek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.