Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dít alles ná geboorte . . .

Nou die oggend op pad na nêrens skakel ek die karradio aan en hoor hoe die een of ander deskundige ’n paar tekens uitwys van ’n sekere toestand wat klaarblyklik onder bespreking is. Die sagte, simpatieke stem van die vrou aan die woord laat my my ore spits.

“Voel jy soms vir geen oënskynlike rede nie moeg?”

Ja, dis ék daai.

“Ondervind jy nou en dan slaapversteurings, soos dat jy skielik wakker skrik, of sukkel om aan die slaap te raak?”

Net so.

“Wanneer jy in die geselskap van ’n klomp mense is, selfs vriende, gebeur dit dat jy meteens eensaam of uitgeworpe voel?”

O, ja!

“Begin jy partykeer huil, sonder dat jy weet waarom?”

Amper daagliks.

“Voel jy af en toe onseker oor jouself, of dat die een of ander onvoorsiene ramp jou gaan tref?”

Natuurlik!

Steeds in die gerusstellende stemtoon sê die vrou dan dat indien jy “ja” op hierdie vrae sou antwoord, jy ongetwyfeld aan postnatale, of nageboortelike, depressie ly.

Vanselfsprekend skrik ek my boeglam, want sover ek weet, het ek nog nooit geboorte geskenk nie.

Ek het wel twee seuns, maar gelukkig het my vrou vir hul verlossing gesorg. In albei gevalle was ek by in wat destyds die enigste hospitaal in Hermanus was.

In daardie dae was ginekoloë nog nie hier beskikbaar nie en ons huisarts, dr. Jan van Heerden, wat gewilde seksboeke vir tieners onder die skuilnaam Jan van Elfen geskryf het, was by my oudste se geboorte. Hy het half verveeld langs die bed in die kraamsaal gestaan en fluit terwyl sy pasiënt deur haar rits geboortepyne worstel. Hy het duidelik nie gehou van die klavierkonsert van Mozart wat ons saamgebring het en besig was om op die bandopnemer in afwagting van die nuweling se koms te speel nie. Toe die knaap oplaas gebore word, het hy kwalik oe of aa gesê, waarvoor ’n mens hom nouliks kan verkwalik, so in die aangesig van ’n vals fluiter aan die een kant en ’n beroemde pianis aan die ander kant.

Die tweede se geboorte ’n paar jaar later was ewe skouspelagtig. My hoogs swanger vrou word drie-uur die nag in ons huis wakker en gil dat dit tyd is. Ons jaag van Onrus na die einste kraamsaal. Die snelheidsmeter trek al by 120 km/h, maar steeds kla sy of ons nie vinniger kan ry nie.

Goddank – die R43-hoofpad het toe nog nie robotte gehad nie.

Met skreeuende bande hou ons reg voor die ingang van die hospitaal stil en draf die kort entjie na die kraamsaal. In die harwar het ons vergeet om die bandopnemer en Mozart-kasset saam te bring, maar daar sou in elk geval nie tyd gewees het om die apparaatjie aan te skakel nie, want die kindjie word gebore terwyl die verpleegsters nog skarrel om alles in die kraamsaal reg te kry.

Net voordat ons by die huis weg is, het ek gelukkig onthou om die betrokke arts – in dié geval dr. Alan Furniss – te bel en te waarsku dat die baba op pad is.

Hy het eers in die saal opgedaag presies toe die suster die pasgeborene omhoog hou.

Die goeie dokter se oë rek so groot soos pierings. Dat ’n man nou só ’n maklike bevalling kan hê!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.