Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ek het donnigs hagd gewegk . . . ’

My missie was nog altyd om die Afrikaanse taal, kos en kultuur te bevorder en mense trots te maak daarop. Daarom handel al my boeke oor boerekos en het ek ’n televisiereeks daaroor gedoen.

Aan die begin van 2018 het ek ’n reusebestelling vir my boeke gekry. Die handelaar wou alles in my stoor hê. Ek het verkoop, die deur toegetrek en die sleutel oorhandig.

Die boeke sal nie herdruk word nie en soos ’n goeie vriend sê, dit is reeds Africana.

Dit kos baie geld om resepteboeke in volkleur te laat druk. Dit is lekker om die eerste boek in jou hande te hou – en dan? Hoe gaan jy dit in die boekwinkels kry? Hoe gaan jy publisiteit kry?

Hoe gaan jy mense oortuig om jou boek te koop tussen al die ander boeke wat beskikbaar is?

Toe ek oorspronklik na ’n uitgewer gegaan het met die idee vir Die Groot Boerekosboek het sy gesê daar is nie ’n mark daarvoor nie.

Ek het toe “agter die lekker aan” geskryf. “Die kos wat ons eet, met wenke en wyshede en die dinge wat die oumense vertel het” en ek het dit self uitgegee.

Dit is gevolg deur Nog ’n stukkie, ook deur my uitgegee.

Ploeterend deur ’n traumatiese egskeiding en min geld, het ek op feeste met ’n trollie deur die strate gestap. Ek het mense voorgekeer en my boeke gewys. Pieter Hurter van Hermanus vertel hy het my so jammer gekry, hy het sommer twee boeke gekoop.

Verskeie uitgewers het my genader, maar teen hierdie tyd het ek geweet wat ek doen en voortaan sou ek al my boeke self uitgee. Afval en Afvalligheidjies is herdruk. Die Groot Boerekosboek, Die Groot Boerekosboek 2 en Potjiekos en Potpraatjies het die volgende paar jaar verskyn.

Ek het al die navorsing vir die boeke gedoen, die resepte getoets, die teks geskryf en die foto’s geneem. Die “ateljee” was my stoep. Soms het daar stof op die kos gewaai, dan maak ek maar of dit neutmuskaat is.

Steeds het ek met my trollie vol boeke in die strate geloop. Steeds het ek uit my bagasiebak verkoop. Behalwe dat die boeke in boekwinkels en by aanlyn winkels was, het ek self bestellings behartig. Ek het die boeke geteken, verpak en by die koerier gaan aflewer.

Intussen het ek my fantastiese man, Graham, ontmoet. Eweskielik is kwotasies en finansiële goed op Excel uitgewerk, nie meer volgens my manier op ’n papierservet nie. (Dit het hom laat beter voel, maar ek het steeds los papiertjies gehad wat die wêreld vol lê.)

Toe ek en Riaan Badenhorst saam ’n reeks oor boerekos aanpak, was die reaksie oorweldigend. Die verkope van Die Groot Boerekosboek en daarna Die Groot Boerekosboek 2 was so goed, dit was in een stadium hoër as die erotiese roman Fifty Shades of Grey.

Dit kan net een ding beteken: Boerekos maak jou seksie.

Toe al my voorraad vroeër vanjaar uitverkoop, het ek en Graham besluit dit is tyd om af te tree en ons lewe saam te geniet.

Ons vriend Ernst Thompson, wat in die Swartland grootgeword het, het ’n safari-kappie vir sy bakkie laat maak met sy aftrede. Nou ry hulle rond. “Ek het donnigs hagd gewegk, ek vegdien dit,” sê Ernst.

Ek gaan nie weer kosboeke skryf of uitgee nie. Dit was tien wonderlike jare in my lewe, vol spanning, opwinding, afwagting, groot sukses, drie internasionale toekennings en ’n Veertjie vir beste televisie-aanbieder in ’n leefstylreeks.

Ek kan eintlik nie glo ek het dit reggekry nie, maar nou is dit tyd om af te tree.

Ek het donnigs hagd gewegk, ek vegdien dit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.