Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ek voel soos ‘Mukiwa, a white boy in Africa’

Daar is baie redes waarom die onlangse onluste my kwaad maak, maar ek was lanklaas so woedend as toe ’n Zimbabwiër wat by my werk en wat ek ook as ’n dierbare vriend beskou, ná twee weke se afwesigheid opdaag en etenstyd vir my sê: “No, thank you, I cannot eat. It was too much tear gas.”

Vir veiligheidsredes los ek eerder sy naam hier uit, wat vir my sleg is, want hy is soos familie. Dit was vir my bitter erg toe ek hom nie tydens die onluste kon inneem nie.

Sy boodskap was duidelik: “I cannot. My place will be burned down.”

Nagte om het ek met ’n skuldgevoel wakker gelê – ’n skuldgevoel omdat ek met ’n vol maag veilig in ’n warm bed lê terwyl hy en vele ander vir hul lewe vrees. Dit is vir my só ironies dat hy Zimbabwe vir ’n kwansuis beter lewe wou verruil, dink ek by myself. Hy het sowat twee jaar gelede die geleentheid aangegryp om hierheen te kom om sodoende vir hom en sy vrou en kinders, wat in Zimbabwe agtergebly het, beter te kan sorg. Hy doen hoofsaaklik tuinwerk en los werkies, maar het egter sowat 20 jaar ’n goeie en gerespekteerde werk in Zimbabwe gehad. Maar, soos iemand lank gelede aan my gesê het: “As jy nie jouself kan losmaak van gister nie, gaan dit jou altyd weerhou om ’n sukses te maak van môre.”

Sy positiewe houding sê vir my dis presies wat hy doen.

Ons verhouding laat my dink aan ’n boek wat ek lank gelede gelees het. Die boek is getiteld Mukiwa, wat in Zimbabwe afspeel en geskryf is deur Peter Godwin. Mukiwa beteken “a white boy in Africa”. Godwin beskryf sy kinderdae in die ou Rhodesië deur die oë van ’n sesjarige kind met baie liberale ouers tot waar hy jare later as joernalis na Zimbabwe teruggekeer het. Ek kan baie daaroor uitbrei, maar laat ek net sê – dit voel asof ek my Zimbab­wiese vriend baie langer ken as sedert die eerste keer toe ons ontmoet het.

Toe lui my voordeurklokkie laasweek. Ek was lanklaas so bly om iemand te sien. Ek was in ’n stadium bevrees hy het dalk besluit om terug te gaan Zimbabwe toe. Ek kon sien hy het gewig verloor, maar die vrae kon wag vir wanneer ons teen tienuur se kant ’n stukkie beskuit en koffie geniet. Toe ek later in groot afwagting met die koffie en beskuit uitstap, sê hy dat hy nie nou wil hê nie. Hoewel sy breë glimlag steeds gelyk het soos die son wat oor Afrika opkom, was dit sy oë wat hom weggegee het.

Oor waarom hy nie wou eet nie, was ek spyt ek het gevra, want ek was kwaad – kwaad omdat sy gesondheid beïnvloed is en hy hierdeur moes gaan; kwaad omdat ek kon sien hoeveel gewig hy verloor het; kwaad omdat ek wonder of dít nou is waarheen hy vir ’n kamstige beter lewe vir hom en sy gesin moes kom. Maar bowenal was ek woedend toe ek in sy oë kon sien watter geweldige invloed hierdie twee weke op hom as mens gehad het.

Dit was nog altyd vir my asemrowend en ’n geweldig groot voorreg om in hierdie betowerende mooi deel van ons wêreld te woon en terselfdertyd hartverskeurend. Maar net soos my Zimbabwiese vriend gaan ek nie toelaat dat hierdie my wegjaag nie, want ek is Mukiwa – a white boy in Africa!

jhcoetzer.coetzer@gmail.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.