Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gemeenskap rou

“My seun was liefdevol, respekvol en altyd beskermend teenoor sy familie.”

Só beskryf David Coert sy seun, Damian Coert, wat in die feestyd in ’n skietvoorval dood is.

Familielede en inwoners van Mount Pleasant is in rou gedompel ná die skielike en tragiese dood van dié wetstoepassingsbeampte.

Die 32-jarige Damian is in ’n skietvoorval beseer toe sy kollega se vuurwapen afge­gaan het terwyl hulle aan diens was.

Dié voorval het Donderdag 26 Desember plaasgevind en die Over­strand-munisipaliteit het die nuus in ’n verklaring op Facebook uitgereik en gesê dat dit moontlik ’n frats­ongeluk was. Damian is in ’n kritieke toestand na die Mediclinic Hermanus geneem en is twee dae later (op 28 Desem­ber) dood. Gerugte doen die ronde dat Damian dood is nadat hy van die lewens­ondersteuning­stelsel ontkoppel is.

David sê egter dat dit nie die geval is nie. Hy het aan Hermanus Times verduidelik dat sy seun se toestand wel verswak het en hy aan sy beserings beswyk het.

Volgens hom was sy seun en sy kollega, wat verant­woor­delik was vir die skietvoor­val, beste vriende. “Hulle het saam groot geword en basies alles saam gedoen.

“Ons is nie kwaad vir hom nie, maar ons is wel ontsteld oor die manier waarop ons seun seergekry het en dat sy lewe só beëindig is.”

David verduidelik dat sy seun ’n blink toekoms gehad het en hy sou vanjaar getrou het.

“Dit is ’n baie moeilike tyd vir die familie en daar is baie gemengde gevoelens en die families sal mekaar nou moet bystaan.”

Damian is Saterdag 4 Janu­arie begrawe en sy pa vertel dat daar baie mense by die roudiens en begrafnis was.

Die Overstrand-munisipaliteit is besig om die saak te ondersoek en Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement, het ook by die begrafnis gesê dat hulle alles in hul vermoë sal doen om die saak te onde­r­soek.

Hy het ook sy meegevoel met die Coert-familie betuig.

Kapt. Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die beskuldigde het Donderdag 27 Desember in die hof verskyn.

“Hy is op borgtog vrygelaat en omdat die omstandighede verander het met die afsterwe van Damien, is die dossier verander na moord. Die saak word tans ondersoek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.