Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
G’n einde aan haar boeke

Die ink in Chanette Paul se nuutste boek is skaars droog, maar die boek is reeds op die rakke.

Chanette, ’n inwoner van Stanford, verduidelik die boek is een van ’n trilogie en is gegrond op sterk vroue wat hul lesse op die harde manier leer, maar tog bo uitkom. Volgens Chanette is daar ook spanningselemente in al drie. “Die drieluik staan bekend as die Vywervrou-trilogie. Die titels van die drie boeke is Lira, Mirre en Corali.”

Die nuwe boek, Corali, is die laaste in die drieluik.

Sy het twee jaar lank haar tyd, energie en passie gegee om die drie boeke te voltooi. “Gewoonlik skryf ek so twee boeke elke drie jaar, dus een en ’n half per jaar.”

Volgens Chanette het sy nomadies grootgeword. Sy het aan nege verskillende skole skoolgegaan en in talle huise saam met haar ouers gewoon. Sy het by vyf universiteite studeer. “As volwassene het dit nie veel beter gegaan nie, tot ek Stanford toe getrek het,” vertel Chanette. “Dit is die langste wat ek nog op een plek gewoon het. Hierdie jaar sal dit egter reeds agtien jaar wees vandat ek ’n erf op Stanford gekoop het. Dis ’n rekord vir my!”

Die droom om eendag ’n skrywer te word, het haar nog altyd na aan die hart gelê en sy het altyd stories in haar kop opgemaak en laat afspeel. Chanette het op agtjarige ouderdom stories vir haarself begin skryf, en dis waar die skryfgogga haar regtig gebyt het.

“Toe ek sestien was, het ek ’n sprokie na ’n kinderprogram op die radio ingestuur. Dit is aanvaar en voorgelees, maar ek was op skool en het dit nooit gehoor nie. ’n Kortverhaal wat ek in matriek geskryf het, is twee jaar later in ’n tydskrif gepubliseer. Daarna het ek ondanks verskeie pogings nie hond haaraf gemaak nie.”

Dit het haar later getref dat sy nie die skrywer is wat sy graag wou wees nie. “Ek het toe maar nagraads Letterkunde gaan studeer om op te maak vir my eie onvermoë.”

Twintig jaar ná die tydskrifstorie het sy besluit dit is nou of nooit. “Ek het op 30-jarige ouderdom weer die pen opgetel en my eerste boek is ’n jaar later gepubliseer. Daarna kon ek nog nooit weer ophou nie. Ná 25 jaar in die bedryf is dit steeds moeilik om te glo dat ek dit toe wraggies gemaak het; dat ek regtig ’n skrywer is,” vertel sy.

Die titel van haar eerste boek was Maalstroom van ekstase en is in 1996 vrygestel. Dit is ’n liefdesverhaal wat teen die agtergrond van ’n skubaduik-uitstappie by Sodwana afspeel.

Deesdae fokus haar boeke op spanningsromanse of liefdesromanse met spanning vermeng. “Dit hang af waar die klem lê,” sê sy. “Ek beeld die afgelope tien jaar of so die liefdesaspek net baie meer realisties aan as voorheen.”

Wanneer sy nie skryf nie, hou sy haar besig met mosaïek, prentjies en ander kunssinnige projekte. “Ek lees ook uiteraard baie – feitlik elke aand vir ’n paar uur. Ek is lief vir tuinmaak en dol oor snorkel. Die lekkerste is egter om tyd saam met my lewensmaat, Ernie Blommaert, deur te bring.”

Chanette het vandeesmaand haar 47ste boek vrygestel en sê daar is geen keer aan haar nie. Sy is reeds besig om aan haar volgende boek te werk.

Chanette Paul se nuwe boek Corali is tans beskikbaar in verskeie boekwinkels soos Bargain Books en kos R340.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.