Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gulde kans op rooi tapyt by Sona 2020

’n Leerder van Hawston Sekondêr het die geleentheid van ’n leeftyd gehad toe hy verlede week die president se staatsrede bygewoon het.

Griffon Damon, wat lid is van die plaaslike junior stadsraad, het die voorreg gehad om al die prag en praal – en al die drama – van Donderdag 13 Februarie se staatsrede eerstehands te ervaar.

Hoewel hy nie naby genoeg aan pres. Cyril Ramaphosa kon kom om sy hand te skud nie, sê Griffon hy het wel die voorreg gehad om skouers te skuur met talle politieke hoëlui soos Jackson Mthembu, die minister in die presidensie; Zweli Mkhize, die nasionale minister van gesondheid, en Tito Mbweni, die minister van finansies.

Sy dag is verder gemaak toe hy die Springbokkaptein, Siya Kolisi, en Zozibini Tunzi, Mej. Heelal, sowel as Pravin Ghordan, die minister van openbare ondernemings, en Trevor Manuel, ’n voormalige minister van finansies, ontmoet het.

Griffon vertel die opwinding van die dag en die elektriese atmosfeer was so oorweldigend dat hy nie veel van die president se staatsrede kan onthou nie.

“Ek was nog nooit so naby die president nie. Ek wou graag sy hand skud, maar ná die sessie was daar te veel media by hom.”

Die opwinding het reeds vroeg verlede week begin toe hy bevestiging van sy uitnodiging na die jaarlikse geleentheid ontvang het.

Dít, sê hy, volg nadat hy ’n brief aan die parlementêre kantoor gerig het om te versoek dat hy dit as verteenwoordiger van sy skool mag bywoon.

“Toe ek die Maandagaand die uitnodiging kry, was ek so opgewonde dat ek nie kon slaap nie,” sê Griffon laggend.

Sy eerste voorsmakie van die glansryke geleentheid was toe hy op die rooi tapyt saam met die LP Maurencia Gillion, ook ’n boorling van Hawston, afgeneem is.

Daarna, vertel hy, is hy na ’n vertrek geneem waar die verrigtinge regstreeks op skerm gewys is. Tot sy verbasing, vertel hy, is hy na die parlementêre raadsaal geneem waar hy naby die ANC se Top-5 gesit het.

Al wat sy “dag vol wow- oomblikke” bederf het, vertel Griffon, was die EFF se gure optrede.

“Hul optrede was baie disrespekvol. Nadat hulle die sessie ontwrig het, het hulle ook mense met botteltjies water gegooi.

“Hulle het hulle nie eens aan die Speaker gesteur nie. Die lede van die EFF moet beslis vasgevat word oor hul gedrag,” aldus Griffon.

Hy het almal bedank wat hom ondersteun, in besonder die LP Maurencia Gillion en Brent Simons wat hom na die geleentheid vervoer het.

“Ek wil ook baie graag die skool, ons hoof, Norman Philander, en die onderwysers vir al hul ondersteuning bedank. Dankie ook aan Andrea Duminy; sy het regtig uit haar pad gegaan om my dag spesiaal te maak,” het hy bygevoeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.