Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hier is iets in jou hande wat nie gaan uitsterf

Liewe leser, terwyl jy hier sit en lees, lees jy aan iets wat nie van plan is om te sterf nie. Dis die gemeenskapskoerant, soos in jou Hermanus Times.

Omdat die voortydige berigte van dagblaaie se dood so dwingend word, is dit die gemeenskapskoerante wat kophou en koershou. Alreeds is die blote gedagte van sonder ’n koppie koffie in een hand en ’n koerant in die ander ’n verskriklike toekoms. Hoe gaan ons dit oorleef – sonder papier in ons hande, sonder daardie lekker sonplekkie op die stoep soek vir al die nuus en nuusies in en om ons?

Hou duim vas, hou die goeie geloof: Jóú koerant sal nie, mag nie, verdwyn nie.

Dit is nou maar eenmaal so dat die tegnologie sy wrede tentakels in ons daaglikse genietinge ingesteek het. Dit is ook so dat papier duur is, ink ook. Dat rolperse groot, magtig en onmenslik duur is. Dan nog al daardie voertuie wat ná middernag pad vat om uiteindelik pakke koerante donkernag af te gooi vir afleweraars op fietse, in motors, op pad in koue en hitte ons koerant kom afgooi. (Dit kos alles geld, sê die grootbase, maar dit skep ook werk – sê ek maar net.)

En so sal die tegnoloë ons gedurig inlig: Mense onder veertig weet nie eens hoe lyk ’n koerant nie. Alles, letterlik alles, fopnuus ook, kom nou blitssnel, meestal sonder foto’s, oor die mees ongepoetste sosiale medium van alle tye: jou selfoon.

Maar, en dis waar die doemprofete lekker kleitrap, hoe gaan jy weet wie almal dood is in jou wêreld; hoe gaan jy weet van jou plaaslike apteek se specials, om nie eens van jou hoekwinkel te praat nie. Hoe gaan jy daai elektrisiën se nommer, of jou naaste dakregmaker in die hande kry as jy dit nie in die agterblaaie van jou eie koerant kry nie?

Verlede week het ’n gerekende perswese-professor, Johannes Froneman, in Die Burger geskryf oor hoe onontbeerlik die gemeenskapskoerante eintlik is.

So skryf hy: “Naas die dagblad het goeie gemeenskapskoerante eweneens ’n belangrike rol te speel – selfs groter as voorheen.

En, het hy laat weet, gemeenskapskoerante is nie koerante wat geld verloor nie. Dis ook nie koerante wat besonderse geldbystand van die grootbase kry nie.

As jy dus nou met jou Hermanus Times koffiedrink-en-lees, geniet dit, en glo maar: Môre is nog ’n dag vir hierdie koerant. As die groot koerantbase net die lig wil sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.