Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hoe kry Kerneels dit reg om trefferboeke te skryf?

So kom ons begin by wie jy is? Ek is ’n oudjoernalis (Beeld en Die Burger) wat uitgewer geword het (Human & Rousseau en NB-Uitgewers). Ek het deur die jare as vryskut baie geskryf oor pop, rock en jazz, en onder skuilname restaurant-resensies geskryf.

Waar het jou passie vir skryf begin? Ek kom uit ’n huis waar daar baie gelees is. En toe beland ek in die joernalistiek waar skryf die kern van jou bedrywighede is. Boonop was my spesialisgebied die kunste en die amper noodwendige gevolg was dat ek self begin het met eers kortverhale en later romans.

Hoe het jy die oorgang van joernalis na uitgewer en toe na voltydse skrywer gedoen? Ek was net gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees. Ek het uit die aard van my take as kunsjoernalis baie met uitgewers te make gehad en toe ek ’n pos aangebied word, het ek gespring.

Jou nuutste boek, Hond se Gedagte, het laasjaar op die rakke verskyn. Waar het die idee vir die boek ontstaan? Daar was twee impulse. Die eerste was in die spreekkamer van ’n onkoloog in die Panorama-kliniek. My vrou het gesit en wag om die onkoloog te spreek en toe vertel die man by ontvangs, Ryno Eksteen, vir ons van sy kat, Marmite, en hoe die kat met hom praat. Alles tong in die kies, maar dit het my dadelik laat wonder hoe dit sou wees as mens ’n boek skryf oor ’n pratende hond. Dit was in 2014, en ons had in daardie jare ’n groot Duitse herders­hond genaamd Jasper. Die ander impuls was die vraagstuk van wonderwerke en geloof, wat al sedert my eerste jaar op universiteit (1971) by my spook. Wat se soort wonderwerk is nodig om mense te laat nadink oor hul geloof? Dit was nie moeilik om rugby daarby in te sleep nie, want Suid-Afrikaners se geloof word elke week getoets wanneer hul rugbyspanne op die veld draf.

Hoe werk jou skryfproses? Geen rituele nie, net harde werk. Ek bestee baie tyd aan beplanning en die versamel van inligting en sodra ek die breë raamwerk van die roman gereed het, begin ek skryf. Gewoonlik sog­gens. Dit wat binne die raamwerk gebeur, is nie in beton gegiet nie. Die storie slaan dikwels vreemde rigtings in terwyl ’n mens skryf.

Van waar kry jy idees vir jou boeke, help Bettysbaai (die dorp waar jy tans woon) se natuurskoon? Ek is maar altyd geneig om my ore te spits vir stories en anekdotes. Maar soos ek oor Hond se gedagte verduidelik het, kan meeste romans herlei word na een vonk. Met Ester was dit ’n ou juridiese anekdote wat ek gehoor het, en met Piekniek by Hangklip was dit ’n kombinasie van dinge, waaronder Bettysbaai en omgewing, en al die dinge wat ek hier beleef het sedert ek in 2006 hierheen gekom het. Ek skryf nie oor bestaande persone in die Bettysbaai-omgewing nie, maar daar is baie verwysings na plekke.

Ek sien een van jou boeke heet Piekniek by Hangklip,vertel my daarvan, word Hangklip gebruik in die boek? Dit handel oor ’n moordenaar wat op die spoor is van ’n vrou wat na Bettysbaai gevlug het. Die verhaal maak baie draaie, maar uiteindelik kom alles bymekaar in ’n toneel wat by die Hangklip-hotel afspeel. Ek het na die hotel gegaan, destyds nog met Henry en André Roux aan bewind, en die laaste tonele presies volgens die hotel se vertrekke en binneplein beplan.

As ervare skrywer, watse wenke sal jy vir aspirantskrywers gee? Hoe maak ’n mens, wat doen jy, en wat moet jy nie doen nie? Dis een van daardie dinge wat moeilik is om vir mense te leer. Die beste wenke vir mense is om hul gedagtes neer te skryf, aantekeninge te maak oor die dinge wat hulle fasineer en wanneer die idee vir ’n roman hom voordoen, te sorg dat jou beplanning deeglik gedoen is. Daarna begin jy skryf en dikwels raak al die beplanning vergete. Maar dit maak nie saak nie. Jy moet net in die gewoonte kom om te skryf, die voertuig te word van ’n storie. En sodra jy die proses voltooi het, moet jy bereid wees om nog baie herskrywing te doen. Onthou altyd dat J.K. Rowling se eerste Harry Potter-boek deur 12 uitgewers afgekeur is voordat iemand dit gepubliseer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.