Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hulle moet in tronk vrot’

“Help my asseblief voor ek in die tronk beland of dood is!”

Dié hartroerende pleidooi was deel van ’n brief wat Juanicka Willemse enkele maande voor haar grusame moord, na bewering aan die hande van haar eks-kêrel wat onlangs uit die tronk vrygelaat is, aan haar broer Elroy Willemse geskryf het.

In dié brief bely die jong ma van drie haar verslawing aan tik en pleit verskeie kere om hulp “voor dit te laat is”.

Die dag wat sy hulp sou ontvang, het Elroy Sondag aan begrafnisgangers gesê, was die dag wat haar liggaam in hul bure se erf in Cambridgestraat in Hawston gevind is.

Gassprekers, onder andere die speaker van die Wes-Kaapse parlement, Masizole Mnqasela, het by begrafnisgangers gepleit dat Juanicka, wat ook bekend was as Nita, se dood nie tevergeefs moet wees nie, maar as wekroep moet dien vir almal om tot aksie oor te gaan om soortgelyke tragedies te verhoed.

Mnqasela het in sy roerende boodskap beklemtoon die gemeenskap moet saam staan om ’n duidelike boodskap aan misdadigers uit te stuur dat moord nie in die gemeenskap geduld sal word nie.

“As dit begin normaal word dat ons vroue en kinders verkrag en vermoor word, is niemand meer veilig nie. Ons boodskap aan die moordenaars is dat hulle nie weer uit die tronk sal kom om sulke dade te pleeg nie – hulle moet in die tronk vrot,” het hy bygevoeg.

Die Overstrand-onderburgemeester, Elnora Gillion, het gepleit dat die ge­meen­skap hul stilswye rakende misdaad, veral dié teen vroue en kinders, moet verbreek en na mekaar moet uitreik.

“Daar is ’n oorlog teen ons vroue en kinders en ons moet ’n leërskare vorm om die ‘oorlog’ te wen. Let us rise up and be one another’s keeper,” het die onderburgemeester gepleit.

Joanette Muller het ’n brief deur ANC-LP Maurencia Gillion voorgelees waarin Gillion meld dat geslagsgegronde geweld (GBV) ’n kommerwekkende kwessie bly. “Statistieke toon dat Suid-Afrika van die hoogste vlakke van geweld in intieme verhoudings in die wêreld het,” het Gillion gesê.

“Dit vra nie wie of wat jy as slagoffer is nie, dit gebeur in die beste van families asook die slegste van families. Die vraag vandag op ons almal se lippe moet wees: Hoe nou gemaak?

“Ek wil vandag ’n beroep op een en elke lid van die gemeenskap, organisasie, kerkleiers en alle gemeenskapsleiers doen, om hande teen GBV te neem. ’n Gemeenskap wat saamstaan, kan die pandemie genaamd GBV stopsit. Laat ons as ’n gemeenskap ons vroue beskerm en respekteer. Laat ons dit ter herinnering van Nita doen,” het Gillion bygevoeg. . Aimsley Witbooi is kort na die gru-ontdekking vir Juanicka se moord in hegtenis geneem. Witbooi het verlede week aangedui dat hy sy borgtogaansoek wil laat vaar. Die saak is tot 8 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek. Witbooi sal tot dan in aanhouding bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.