Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hulp belowe vir O’berg-bouers

Presies vier dae ná ’n teleurstellende vergadering tussen bouers en kontrakteurs van die Overberg en die departement van arbeid skyn die lig weer aan die einde van die tonnel.

Die bouers, wat al die afgelope twee jaar ’n veldtog teen die Nywerheidsbedingingsraad (BIBC) voer, het verlede Donderdag ’n vergadering met Chris Nissen, die Wes-Kaapse kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), gehou.

Die vergadering is in Hermanus-polisie se komiteekamer gehou.

“Ek het vanoggend op pad hierheen ’n vergadering met Thulas Nxesi, die minister van arbeid, gereël. Die rede waarom ek die minister genader het, is omdat David Esau, wat ook van die departement van arbeid is, my meegedeel het dat hierdie ’n nasionale besluit is en dat net die minister besluite oor die BIBC kan neem,” sê Nissen.

Nissen verduidelik dat dit nie vir hom sinvol is dat die BIBC daar is en dat almal deur hulle moet werk nie. “Dit is ’n een-grootte-pas-almal situasie en dis nie hoe dit moet wees nie. Dit mag nie gebeur nie en dis hoekom ons onlangs ook ’n sakeondernemings- en menseregte-afdeling binne die MRK gestig het om sodoende na kleiner ondernemings te kan kyk.”

Hilton Pedro van Whale Coast Contractors het Nissen bedank en genoem dat die bouers en kontrakteur voel asof hulle “weggegooi” is.

“Ons wil net gehelp word sodat ons as bouers en kontrakteurs ons eie ding kan doen. Volgens die BIBC mag ons nie op ons eie werk nie, maar ek verstaan dit nie want ons woon dan in ’n demokratiese land,” sê Pedro.

Pedro het die kommissaris verder ingelig dat hulle onlangs ’n geval gehad het waar BIBC se saak teen ’n kontrakteur uitgegooi is omdat die BIBC se bewysstukke nie reg was nie.

“Elke derde week kry ’n mens ’n aanslag van die BIBC – dan skuld jy R350 000, dan skuld jy R375 000, en dis so erg dat een van ons manne die BIBC R1,2 miljoen skuld. Al wat die BIBC sê, is: ‘Julle sál dit betaal.’ Wat hulle nou doen, is om ons net verder in die skuld te druk. Ek self sit al sedert 2018 sonder werk; almal wat hier sit het nie werk nie,” voeg Pedro by.

William Volkwyn, wat self ook in die boubedryf is, sê die BIBC veroorsaak die agteruitgang van die gemeenskap in Hermanus.

“Ek het destyds 35 manne gehad wat vir my gewerk het; tans het ek 15. Op die oomblik sit hier 100 bouers sonder ’n inkomste; hulle sit sonder kos. Ons is bereid om ons mense te ondersteun en na hulle om te sien, maar ons eie huishoudings gaan nou ook agteruit. Ons gemeenskap trek swaar; ons kort ’n wonderwerk,” sluit Volkwyn af.

Pedro het almal wat die vergadering by die polisiekantoor bygewoon het, sowel as brig. Donovan Heilbron, distrik-bevelvoerder van die polisie in die Overberg, wat die vergadering byeengeroep het, bedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.