Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Is daar lig aan die einde van die tonnel?
Inperking affekteer besighede
Erika Basson
Nick Yell
Nick Yell
Andre McKenzi
Andre McKenzi

Sekere sakeondernemings in Theewaterskloof en Kaap Agulhas-munisipaliteit wat nienoodsaaklike dienste verrig nie, is reeds 12 dae gesluit..

Erika Basson, eienaar van Erika’s Nails in Meulstraat, het Vrydag gesê sy moet die salon en haar huis se huur betaal. “Die mense by wie ek huur het nog nie vir my kom vra of ek my huur aan die einde van die maand sal kan betaal nie.”Volgens Basson sal haar onderneming die inperking oorleef. “Baie mense kan nie wag dat ons weer oopmaak nie.” Sy is egter nie seker of sy sal kan voortgaan by die salon nie en sal dalk moet oorweeg om weer van haar huis af te werk. “My man werk ook vir homself en sy onderneming sal ook oorleef. Hy het reserwes om mee voort te gaan, want hy werk goed met geld.” Basson se man, Matthew, en sy pa is motorwerktuigkundiges in Caledon. “Hulle huurder het reeds vir hulle in kennis gestel hy sal hulle nie verantwoordelik hou vir die betaling van April se huur nie, want hy het ’n goeie hart.” Basson het voorts vertel sy is nie bekommerd oor die inperking nie, want as ’n kind van die Here weet sy hulle is in Sy hande. “Die dorp moet saamstaan en mekaar help.” 

André McKenzie, alombekend as die Pous en eienaar van LJ’s Pub in Vleiview in Bergsig vertel hulle is al ’n week langer as ander nienoodsaaklike ondernemings gesluit. “Ek het geen inkomste nie so ek kan nie my huur betaal nie.” McKenzie is verantwoordelik vir vyf mense wat nou nie ’n inkomste kan verdien nie. “Mense het my gevra of ek nie ’n voorstel kan indien dat die pub vir slegs twee dae of ’n week kan open na die inperking nie, dan kan die inperking weer voortgaan.” McKenzie vertel dit gaan baie tyd neem om weer na normaal terug te keer na die inperking. Hy is tans besig om aansoek te doen by die solidariteitsfonds, maar volgens hom is die kriteria baie streng. Voorts is hy van mening dat dit baie onregverdig is dat slegs BEE-maatskappye kan aansoek doen tot dié fonds.“Bheki Cele wil mos drank shut down, maar dan gaan omtrent vier miljoen mense in die land sonder werk sit, want alkohol dra by tot die ekonomie van Suid-Afrika.” Hy wil graag ander ondernemings voorspoed toewens in die donker tye en hoop daar is lig aan die einde van die  tonnel.

Oor die uitwerking van die inperking op sy huidige inkomste as vryskut-motorfiets- en reisjoernalis, sê Nick Yell, ’n inwoner van Botrivier: “Op die oomblik is my inkomste in die helfte gesny, maar ek is meer bekommerd dat dit tot nul kan daal in die volgende twee maande aangesien tydskrifte en koerante sonder adverteerders hulself nie lank sal kan onderhou nie. Maar ek is deeglik bewus daarvan dat ek slegs ’n eenmansaak tussen duisende ander konsultante, vryskutwerkers, ambagsmanne, skilders en enige ander mikro-onderneming is wat dieselfde bestaan voer. Ons mag almal finansiële ongevalle word as gevolg van die koronavirus-inperking tensy die regering vinnig wakker skrik en kennis neem van die feit dat dit nie net werkgewers en werknemers van groot ondernemings en klein, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) is wat onmiddellike finansiële hulp nodig het nie. ”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.