Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kwellings van aftreevoorsiening

Die Finmonitor-span beleef voortdurend die uitdagings waarmee beleggers worstel ten opsigte van die bestuur van hul aftreekapitaal, hetsy voor en/of ná aftrede.

Die Covid-19-pandemie, huidige lae rentekoers en skerp inflasie van veral mediese- en versorgingskoste namate ouderdom toeneem, plaas die vergroot­glas tans soveel te meer op hierdie kwellende vraagstuk.

Kortom, ’n moeilike “balanseer­toertjie” moet uitgevoer word. Dit behels onder meer die volgende: Dat voldoende kapitaal vir aftrede (of genoeg geld om ’n bestaande inkomste mee te vervang) beskikbaar is; dat ’n volhoubare onttrekkingskoers, oftewel vlak van inkomste, daaruit moontlik is; dat die geld op so ’n wyse belê word dat koopkrag met inflasie tred hou, maar terselfdertyd ook “veilig” genoeg om die nodige inkomste se volhoubaarheid te verseker.

Vooruitgang in mediese wetenskappe en tegnologie, asook die feit dat mense in die algemeen gesonder leef, verhoog die waarskynlikheid dat mense heelwat ouer sal word as waarop hulle tydens hul aanvanklike beplanning gereken het en maak dit derhalwe nog meer uitda­gend om betroubare aftreebeplanning te doen.

Vrae wat konsekwent gevra word, is: “Kan ek bekostig om af te tree” of “hoeveel kapitaal het ek nodig”.

Daar word baie geskryf en gepraat oor hierdie onderwerp en daar is uiteraard heelwat uiteenlopende benaderinge en menings. Om vir beleg­gers te help om ’n idee te kry van hoe­veel aanvangskapitaal by aftrede nodig mag wees, is dit nuttig om jou maande­likse lewenskostebehoefte by aftrede te beraam, wat dan gebruik kan word om ’n jaarlikse onttrekkingskoers, en eindelik ’n aanvangskapitaalbedrag, te bepaal.

Een riglyn om meer gerusstelling oor ’n volhoubare onttrekkingskoers te kry, is om die sogenaamde “4%-reël” toe te pas (as vertrekpunt). Dit behels dat ’n belegger in die eerste jaar van aftrede ’n onttrekkingskoers van 4% van sy aftreekapitaal as inkomste onttrek en dit daarna jaarliks met inflasie aanpas. Hiervolgens kan die belegger dus ’n bruto inkomste van R40 000 per jaar, of R3 333 per maand, onttrek vir elke R1 miljoen se kapitaal wat beskikbaar is. Indien ’n persoon se inkomste­behoefte by aftrede byvoorbeeld R20 000 per maand is, benodig hulle dus R6 miljoen se aanvangskapitaal (in terme van die 4%-reël).

Belegginsbeplanning voor aftrede, wat R6 miljoen se kapitaal moet verseker, soos in die voorbeeld hierbo, moet ’n paar belangrike aannames gebruik om te beraam hoeveel ’n persoon moet belê, oor ’n gegewe periode voor aftrede, om dit te bereik. Indien ons ’n gemiddelde mediumtermyninflasiekoers van 5% per jaar sou gebruik (die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasie teikenband beloop 3% tot 6% per jaar) en ’n gemiddelde langtermynbeleggings­opbrengkoers van inflasie plus 5% per jaar (met ander woorde 10% per jaar beleggingsopbrengs), beteken dit dat ’n belegger ’n maandelikse bydrae van R7 340 moet maak om oor ’n termyn van 30 jaar hul doelwit te bereik.

Teen aftrede neig die meeste beleggers om meer konserwatief te raak met hul geld, deur byvoorbeeld in rentedraende soort beleggings (soos bv. kontant), te gaan skuil, ten einde hul geld teen markrisiko’s te probeer beskerm. Die risiko met so ’n benadering is egter dat dit net so gevaarlik is om té konserwatief te wees, as om oor-aggressief te wees (deur te veel te belê in groeibates, soos byvoorbeeld aandele en eiendom). Die eroderende effek van inflasie sal tot gevolg hê dat die koopkrag van die beleggingskapitaal mettertyd afneem, alhoewel dit mag voorkom asof die geldwaarde van die geld behoue bly.

Dit is dus uiters belangrik om, reeds voor aftrede, eerstens te verseker dat die nodige inkomste wel deurentyd beskikbaar sal wees en dat daar ook genoegsame blootstelling sal wees aan groeibates (soos byvoorbeeld aandele en eiendom). Inkomstebehoeftes moet, as ’n breë riglyn, byvoorbeeld vir ’n minimum termyn van twee tot drie jaar in konserwatiewe, rentedraende bates (soos bv. kontant) belê word, sodat negatiewe markbewegings nie verkope van groeibates afdwing nie. Die balans van die geld behoort dan in ’n toepas­like mengsel van groei- en konserwa­tiewe bates belê te word, inaggenome die beleggingstermyn, die belegger se unieke risikoprofiel en omstandighede/behoeftes. Die Finmonitor-span beveel aan dat beleggers, hetsy voor of tydens aftrede, ’n gekwalifiseerde deskundige raadpleeg om die nodige finansiële beplanning in te bewerkstellig ten einde al hierdie uitdagings van genoegsame belegging vir aftrede aan te spreek.. Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggings­advies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. Theo Cloete is ’n welvaartbestuurder by PSG Hermanus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.