’n Man is verlede week in die Caledon-landdroshof ’n boete van R100 000 en ses jaar gevangenisstraf opgelê vir handel in dwelms.
Die landdros het gelas dat R20 000 van die boete opgeskort is vir vyf jaar – dit beteken dat Alex Depaepe R80 000 van die boete moet betaal. Twee jaar van die vonnis van ses jaar is opgeskort, wat beteken dat Depaepe vier jaar tronkstraf sal uitdien.
Depaepe en twee ander is Vrydag 24 Januarie tydens ’n klopjag deur die Valke en beamptes van Kleinmond-polisie in Pringlebaai in hegtenis geneem. AO Martin Mostert, woordvoerder van die Kleinmond-polisie, sê die optrede is van stapel gestuur nadat die polisie ’n wenk van die publiek ontvang het. “Nadat die nodige lasbriewe bekom is, het ons die operasie by die huis in Pringlebaai uitgevoer,” het hy vertel. “Drie verdagtes is in hegtenis geneem en daar is ook beslag gelê op 133 daggaplante, ’n klein hoeveelheid gedroogde dagga en toerusting wat gebruik is om die dagga te kweek.”
Die drie verdagtes het Maandag 27 Januarie hul eerste verskyning in die Caledon-landdroshof gemaak.
Die saak teen Depaepe se medebeskuldigdes is egter teruggetrek nadat hy skuld beken het. Hy is die volgende dag gevonnis.
Mostert sê dié inhegtenisneming en vonnis moet as waarskuwing dien vir mense wat dit oorweeg om dagga in grootmaat te kweek.
“Die wet maak voorsiening vir mense wat dagga vir eie gebruik kweek. Daar is egter nog geen lisensies toegestaan vir die verbouing van dagga vir handelsgebruik nie,” het hy gewaarsku. “Bring jouself eers op hoogte van wetgewing voordat jy jouself in die bedryf wil begewe.”