Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
’n Glasie op Hoppie geklink

“Hy was ’n talentvolle skrywer. Skryf was sy passie.”

So onthou Ethné Hopkins haar man, Henry, wat Maandag 18 Februarie dood is as gevolg van die brandwonde wat hy in die Bettysbaai-brand opgedoen het.

“Hy het vertaalwerk en redigeerwerk gedoen en wou nog altyd ’n boek skryf,” vertel sy hartseer.

Sy gaan hul saamwees die meeste mis. Dié egpaar, wat 37 jaar getroud was, het mekaar op 4 Junie 1981 by die Morgenster-landgoed in Somerset-Wes ontmoet. “Ons is presies ’n jaar later getroud.” Hul seuns, Charles en Thomas, is uit die huwelik gebore.

Henry, ’n oud-redakteur van Distrikspos, Die Wynboer en omgewing-joernalis vir Die Burger, was fiks, sterk en gesond. “Hy het die oggend voor die brand nog gaan draf,” sê Ethné.

Henry het ernstige brandwonde opgedoen toe hy hul labrador, Moya, probeer red het. Hy is in Februarie dood as gevolg van komplikasies met sy brandwonde.

Ethné sê die seuns het van kleins af saam met hul pa gaan bergklim. Sy dink met heimwee terug aan hul eerste ontmoeting. “Ek was eienaar van die Hottentots Holland Advertiser in Somerset-Wes en Henry was redakteur van Distrikspos, my opposisie.”

Ethné is ’n taalonderwysers en meen sy kon skryf en ook bietjie rekeningkunde doen. “Hy was in 1981 redakteur van die Distrikspos en het baie meer koerantondervinding as ek gehad en toe ons begin gesels, gee hy my sommer dadelik lesse in koerantuitleg.”

Sy vertel hul vriendskap is gesmee, maar mettertyd, omdat hulle té na aan mekaar was, is Henry daarvan beskuldig dat hy Ethné scoops gegee het. “Hy het gevoel dis ’n ongemaklike posisie en is toe terug Burger toe as omgewing-joernalis in September 1981.

Toe Ethné met Charles swanger was, is Fritz Joubert na die London-kantoor van Die Burger gestuur en sy vrou, Maureen, was die redakteur van Die Wynboer. KWV het toe gesê sy kan saam met haar man gaan as sy iemand vir die posisie kry. Hulle het Hoppie (soos sy vriende hom genoem het) toe gevra of hy kans sien om redakteur van Die Wynboer te wees.

Hy was van 1983 af by KWV en Ethné het haar koerant aan twee mans verkoop wat vir die Argus gewerk het, want sy was toe swanger met Charles. “Hulle het dit toe aan Die Burger verkoop wat dit toegemaak het omdat hulle nie opposisie wou hê nie.

Ethné sê Henry het sy tyd by KWV baie geniet, want hy is lief vir wyn en joernalistiek, maar toe word hy bevorder.

“Hulle het hom die skakelredakteur gemaak en dis vergaderings en dinees en ’n das en ’n pak en Hoppie was nie een vir rondstaan en small talk maak nie. Hy wou uit die werk en uit die pak en begin toe vryskutwerk van die huis af doen.

“Toe ek uit die onderwys aftree was daar niks wat ons in Somerset-Wes hou nie en ons het in 2005 ’n kleinhoewe van 65 ha in Clanwilliam gekoop. Dit was uitvalgrond en water was ’n probleem.”

Hulle het ’n kwota vir die Clanwilliam-kanaal gehad, maar dit was ’n stryd en met kunsmis en arbeid wat al hoe duurder geword het, het hulle besluit om te verkoop en ’n kleiner plek aan te skaf.

“Ons het so tien jaar gelede plek in Bettysbaai gekoop. Ons het ge-‘gim’ en berge geklim en Hoppie het kajak op die see gery. Ons het nie so baie getoer soos ons aanvanklik beplan het nie, want dis so lekker hier.”

Die toere wat hul wel saam onderneem het, sal Ethné altyd onthou. “Ek het altyd veilig gevoel as hy by my is. Hoppie was veral lief om in die Drakensberge te gaan stap en ek het altyd saamgegaan.”

Hulle was in 2007 in die Pirinese-berge en het die Tongariro-kruising in 2016 gedoen. “Dit is 19 km wat jy in ’n dag doen en jy klim van onder die vulkaan oor die lip van die krater self. Dan klim jy weer anderkant af.”

In 1994 het albei langverlof gevat en Kilimandjaro gaan klim.

’n Roudiens vir Henry is verlede Saterdag by die Harold Porter- botaniese tuin gehou waar sy vol en besige lewe herdenk is. “KWV het vonkelwyn geskenk en ons het ’n heildronk op hom gedrink en dank betoon vir sy lewe en dat hy na ’n beter plek is.”

Q 10 Junie 1947 - 18 Februarie 2019

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.