Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Nee kyk, dis baie dinge’

Soos ek agter my lessenaar sit en wonder waaroor ek hierdie week kan skryf, staan my dierbare huishulp, Milly, so ’n paar treë weg, besig met die strykgoed.

Dit bring ’n kalmte oor my, want dis hiér waar absoluut niks die ritme van my gedagtevloei onderbreek nie. Maar dis ook hier waar ons soms lekker aan die gesels kan raak. Ons gesprekke is vir my kosbaar – veral wanneer Milly uit haar maag uit lag en sê: “Nee kyk, dis baie dinge”. En soms praat ek met Milly oor dinge wat ek met niemand anders deel nie, want ek weet tussen hierdie vier mure is waar dit bly.

Dit laat my dink aan ’n paar maande gelede toe oudkollega, Bun Booyens, skuins oorkant my gesit en ons vir ure kon gesels het. Hy het elke nou en dan opgekyk en gesê: “Ek weet julle is baie besig, maar luister gou hier – Jan-Hendrik, jy ook met ’n halwe oor”. Dan het jy het onmiddellik reggeskuif, want jy weet hier kom iets waaroor jy nie gaan spyt wees nie.

Met Milly in die omtrek hoef jy ook skaars die nuus dop te hou. Soggens as sy by die huis instap, begin sy gewoon­lik met die woorde: “Het meneer gehoor . . .” Ek dink sy sou ’n uitstekende joernalis uitmaak. En as ek êrens beplan om oor die naweek ’n lyn in die water te kry, dan vertel sy my sommer ook gou-gou wat die weer gaan maak.

Hierdie week was dit een van die min kere dat ek geworstel het met ’n onderwerp aangesien ek dié betrokke oggend die nuus gekry het dat my ouma dood is.

Ná my hoeveelste koppie koffie en steeds nie ’n woord op die rekenaar­skerm nie, sien ek Milly staar ook die verte in met die strykyster eers regop staangemaak. Ek vra haar toe waarom sy so diep ingedagte is. Sy antwoord my: “Ek wonder oor hoe ek gaan lyk as ek oud is en ek wonder of ek eendag my kleinkinders gaan sien.” Dit was vir my vreemd, want ek het haar nog glad nie van my ouma se afsterwe vertel nie.

Dis een ding om ’n grootouer te verloor, maar nogal anders as jy die laaste ouma of oupa verloor. Seker omdat jy weet dat daai generasie in jou familie nou finaal weg is.

Onlangs kyk ek ’n fliek genaamd Collateral Beauty. In kort handel dit oor twee ouers wat hul sesjarige dogtertjie aan die dood afstaan en hoe elkeen dit op hulle eie manier verwerk. En hoe absurd dit ook al mag klink, gaan dit in hierdie verhaal ook oor die positiewe of die “mooi” wat uit só ’n tragedie kan voorspruit – dalk nie vandag nie, maar eendag.

Vreemd genoeg het ek met my ouma se afsterwe, hoewel hartseer, ietwat bevoorreg gevoel. Bevoorreg aangesien ek hierdie generasie se afsterwe kon beleef en hulle nie myne nie. Hulle sê mos ’n kind is veronderstel om ’n ouer of grootouer te verloor, nie andersom nie.

En dis toe dat ek die nuus met Milly deel. Sy vertel dat haar kinders glad nie eers hulle oupa geken het nie. Daar is slegs ’n foto van ’n Fransman en wil die kinders by haar weet waarom hulle oupa so wit is. Sy sê sy kan nie veel van hom onthou nie, maar net die feit dat hy met hierdie “vreemde” aksent gepraat het. En weer lag ons uit ons maag terwyl ék hierdie keer sê: “Nee kyk, dis baie dinge”.

– jhcoetzer.coetzer@gmail.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.