Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ek sê: Nog nie koud genoeg vir my om langbroek te dra nie

Met die onlangse stewige reënbui het ek sommer lus om kaalvoet in die reën te dans.

Oor die naweek sê ’n wildvreemdeling vir my hy dink daaraan om terug te trek Zeerust toe aangesien dit te koud is in die Kaap. Hy kyk toe so af na my kortbroek en vra ewe ordentlik of ek ’n langbroek besit. ’n Oom van Ceres het ook altyd gesê: “ ’n Man wat nie vandag ’n langbroek dra nie, hét nie ’n langbroek nie.”

Maar kyk, Ceres is darem ’n ander storie, want ek sê toe vir die man dat ons daar bo in die Matroosberge buite Ceres geboer het. Daar waar die mense so gaan sneeu kyk. So van koue ken ek – dié is mos nie koud nie. As kind het ek altyd gedink die stadsjapies is mal om so ver te ry, en dit om sneeu te sien. Vir ons op die plaas was dit ’n beslommernis, want in die oggend moes ek eers oor die onderdeur klim om die sneeu weg te grawe voor jy die deur ordentlik kon oopmaak.

Terwyl ek en die man so oor koue staan en praat, sê ’n vrou hier van die kant af die koudste plek waar sy al gewoon het, is Bloemfontein. Ek het dit self beleef toe ek jare gelede met ’n meisie daar van die Rosestad uitgegaan het. Vroeg die een wintersoggend toe sê my Peugeot se ingeboude rekenaar “snow warning” toe ek die sleutel draai. Die ruitveërs wou nie eens werk nie, so dik het die ryp op die windskerm gesit.

Verder die pad af van my woon ou Chris, wat so ’n paar jaar gelede van Ermelo af hier na Onrus verhuis het. Hy sê hy woon verskriklik lekker, maar dat hy net nie die wind gewoond kan raak nie. Ek het darem al self ’n blou­tjie met die wind geloop toe dit laasjaar my dubbelmotorhuisdeur soos koerantpapier gevrommel het.

’n Man van Somerset-Wes het eenkeer vir my gesê: “Wind? Julle weet nie wat wind is nie. Wind word hier in Somerset-Wes gebore.” Dis toe dat ’n man van Grabouw afhaak en sê: “Hy word dalk daar by julle in Somerset-Wes gebore, maar sodra hy oor Sir Lowry’s Pas kom, is dit hier in Grabouw waar hy grootgemaak word.”

En tussendeur die koue, wind en reën is dit nou veral lekker sopweer. Maar gelukkig is sop iets wat ek oggend, middag en aand kan eet. Dus, twee keer per week kook ons ’n groot pot sop. Dis van boontjiesop, ertjiesop en lensiesop tot pampoen- en patatsop. My vrou wil eintlik nie meer sop sien nie. Sy sê my nou die aand: “Ek het nie gedink ek gaan ooit nodig hê om dit vir jou te vra nie, maar kan ons nie dalk ’n slag ’n vleisie braai nie?” So die naweek toe steek ek maar ’n vuurtjie aan – sommer so saam met ’n bakkie sop.

Die winterweer laat dink my aan die paartjie wat ’n huis by ’n tannie daar in Sutherland in die Karoo gekoop het. Dit was net so voor die winter en hulle was bekommerd dat die huis nie warm genoeg gaan wees nie, maar, reken hulle, as die tannie daar kon bly, hoekom kan hulle nie?

Die een nag raak die man wakker weens die koue en sien toe dat selfs die binnemure toege-ys is. Die volgende dag bel hy die tannie en vra haar hoe sy in dié koue huis oorleef het. Die tannie sê: “Ek het ’n vakansiehuis in Hermanus. Ek het nog nooit in die winter daar gebly nie.”

– jhcoetzer.coetzer@gmail.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.