Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe Hawe vrót

“Dit vrót behoorlik! Geen mens kan die reuk verduur nie,” het ’n lid van die publiek Maandag gekla toe hy by die departement omgewingsake, bosbou en vissery (Deff) se kantoor in die Nuwe Hawe wou sake doen.

Dié man sê die reuk kom vermoedelik uit die koelkamers waar perlemoen waarop beslag gelê is, geberg word.

“As die wind nie waai nie,” het hy bygevoeg, “is hier ’n klomp vlieë en brommers. Ek weet nie hoe die beamptes wat hier werk – veral die vrou wat in die kantoor by die bergplek moet sit – dit uithou nie.”

Verslaggewers van die Hermanus Times het Maandag self die gebou in die Nuwe Hawe besoek om ondersoek in te stel en is byna oorval deur die reuk wat jou by die ingang soos ’n vuishou tref.

Slegs een vrou was in die kantoor; die res van die beamptes het in ’n kleiner kantoor langs die hoofgebou gesit. Niemand wou oor die probleem kommentaar lewer nie en was slegs bereid om te sê die reuk is onhoudbaar.

Volgens die lid van die publiek, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, het hy byna twee maande gelede reeds die probleem by die Overberg Distriksmunisipaliteit (ODM) se gesondheidsinspekteur aangemeld.

Neville Dreyer, die ODM se areabestuurder, het bevestig dat die probleem op 22 Oktober aangemeld is.

Volgens Dreyer toon hul ondersoek dat die reuk nie veroorsaak word deur perlemoen wat vrot nie. “Die uitlaatpyp van die koelkamer loop net buite die perseel uit en nie in die dreinering-stelsel nie, met die gevolg dat ’n poel vorm wat ’n slegte reuk veroorsaak – veral op dae wat die temperatuur hoog is,” het Dreyer verduidelik. Hy het bygevoeg dat die reuk nie ’n gesondheidsgevaar inhou nie.

“Die perlemoen is veilig in die koelkamer; dit is die afskeiding wat na buite uitloop wat die onaangename reuk veroorsaak,” was sy verduideliking.

Volgens Dreyer het inspekteurs aanbeveel dat die perlemoen uit die koelkamers verwyder word sodat die koelkamer herstel kan word.

“Solank dit nog nie herstel is nie, moet die uitloop meer gereeld skoon-gemaak word,” het hy bygevoeg.

Dreyer het aangedui dat gesondheidspraktisyns met Percy Mabunda, Deff se oorsiener, oor Mzwandile Grootboom van die kantoor in die Nuwe Hawe in aanraking was.

“Volgens Grootboom is alle afdelings van Deff asook openbare werke ingelig oor die probleem. Volgens hom het hulle die go-ahead gekry om herstelwerk te doen, maar die uitdaging is om die perlemoen by alternatiewe vriesgeriewe te berg. E-pos is aan die toesighouer, ene mnr. Mabunda, gestuur rakende die oponthoud, maar tot dusver is geen terugvoering ontvang nie,” sê Dreyer.

Zolile Nqayi, Deff se direkteur: kommunikasie, het ná navrae van die Hermanus Times gesê alle bevrore produkte sal Woensdag 20 November uit die koelkamers verwyder word.

“Die oorblywende produkte wat nie geskik is nie, sal van ontslae geraak word,” het Nqayi bygevoeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.